Friday, April 29, 2011

Dankbaarheid oor die mense in my lewe


"Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink - en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap." [Fil 1:3, 4]


Dankbaarheid oor die mense in my lewe.

My grootste rykdom -- is my mense!

Die eerste en die beste plek om hulle name te noem, is in gebed. Om te bid dat hulle die Here bo alles sal behaag, en dat hulle God se wil vir hulle lewe sal LEEF! Dit is verseker ook my trots om te sien hoe passievol hulle die Here liefhet en dien.

Dit is 'n onuitspreeklike troos om te kan sê: By my mense is ek veilig. Hulle verstaan my. Hulle vertrou my. Hulle sien die beste in my ... Hulle verdra my ... ja, ek is veilig in hulle liefde. Hoe ons sonder enige inhibisies eenvoudig net onsself by mekaar kan wees -- dit is ware geborgenheid.

Om te sien hoe elkeen van hulle ontwikkel en die asemrowende potensiaal wat God in hulle geplaas het ontdek, ontgin en uitleef.

Ek kan my geensins die lewe voorstel sonder hulle nie. Ek vier elkeen se uniekheid met dankbaarheid teenoor die Here.

Ek het julle lief ... BAIE!!
Ek geniet julle vooruitgang ... JULLE IS WENNERS!!


 

Fil 1:6

Julle is my rykdom,
Heleen, Reuben, Cobus


 


 


 


 

Saturday, April 16, 2011

Maintaining Morale In Challenging Times | Goals and Achievements

Maintaining Morale In Challenging Times | Goals and Achievements

Bly Passievol


Soms gebeur dit dat dinge jou stormloop ... dit is dan wanneer jy die gevaar loop om passie te verloor indien jy nie op die regte dinge fokus nie. Ek dink aan die woorde van Richard Kearney (hy was die jarelange bekwame tesourier van die VEK Lofdal, Rustenburg) wat eenmaal vir my gesê het: "Focus on the issues that add value."

 
Die vraag is ... hoe verseker jy dat jy passievol oor die dinge wat vir jou saak maak bly? Ek wil graag die volgende voorstel:

 
Binnekamer verhouding met God
Daar is niks wat 'n mens se moed en moraal so versterk as om jou verhouding met God prioriteit te maak nie! Dit dring my om te sê: "Here, begin by my!" Ek kan tog net gee wat ek het, en wat ek het is direk verbind aan dit wat ek ontvang. En wat ek ontvang is direk verbind aan die hoeveelheid tyd wat ek in my binnekamer-verhouding met God spandeer.

 
Mense
Die mense wat naby aan jou is (... wat jy naby aan jou toelaat) sal verseker 'n bepaalde invloed op jou passie (of passiwiteit) hê. Ek dink aan die woorde van Perry Noble wat in 'n artikel opgemerk het: "A person who lacks passion will always bring the temperature in the room DOWN .." Jy moet besluit wie jy gaan toelaat om in jou lewe inspraak te lewer. Wees ook bedag daarop dat jy nie mense se opinies en persepsies jou doodsvonnis maak nie. Hiermee bedoel ek geensins dat ons nie moet luister na kommentaar en kritiek van ander nie, maar hanteer dit volwasse, objektief, behou fokus -- EN BLY GEHOORSAAM AAN GOD SE WIL VIR JOU LEWE. Moet nie 'n kompromie aangaan omdat ander ongemaklik voel omdat jy groei, guns geniet en vooruit gaan nie.

 
Rus
Ek besef dat ek hierdie konstituent van effektiwiteit gruwelik in my eie lewe afskeep. En die ironie is dat niemand dink ek is 'n hero nie. Wanneer 'n mens nie behoorlik rus nie, verloor jy perspektief. Ek besef ook dat dit uiters verwaand en arrogant is om te dink dat die Saak benadeel gaan word indien ek nie altyd teenwoordig en beskikbaar is nie ...

 

 

Wednesday, March 23, 2011

Want so lief het God ...


Lest I forget Gethsemane,
Lest I forget Thine agony;
Lest I forget Thy love for me,
Lead me to Calvary.


Posted by Picasa

Wednesday, January 19, 2011

ManDAAD


Mansgenoeg om God se mandaat vir manwees uit te leef!

Ons het vanaand ons eerste byeenkoms vir die jaar gehad. Terwyl ons vanaand heerlik gesels het, het ek net weereens besef hoe belangrik mentorskap is - en ook hoe groot die verantwoordelikheid hiervan is.

Ek sien uit na 'n wonderlike jaar saam met die manne, en is oortuig daarvan dat die Here GROOT dinge in elke man se lewe sal doen -- en dat elkeen van hulle met selfvertroue en waardigheid God se mandaat vir hulle lewe sal uitleef.

manDAAD - vir manne wat God se mandaat vir manwees leef.

Tuesday, January 18, 2011

VAS 2

'n Kursoriese Skriftuurlike-oorsig oor die geestelike dissipline om te VAS.

Die boodskap was by die VEK Kerugma op 16-01-2011 tydens die 18:30 diens bedien.

www.leefdiewoord.co.za/userfiles/file/Preke 2011/06 VAS Deel 2.pdf

VAS

Boodskap bedien by die VEK Kerugma, oggend 16-01-2011.


Is VAS 'n geestelike dissipline wat steeds in ons dag gehandhaaf moet word?
www.leefdiewoord.co.za/userfiles/file/Preke 2011/05 VAS.pdf

Monday, January 10, 2011

Hoe om die entoesiasme van die nuwe jaar regdeur die jaar te beleef?


Ons het gister (09-01-2011) geseënde dienste by die VEK Kerugma geniet. Die bywoning was wonderlik; feitlik weer terug na normaal. Dit was goed om almal te sien - uitgerus en slaggereed vir die jaar wat voorlê. Die mense het gesels en gekuier voor die dienste ... die Kerugma-Familie is altyd vrolik en vriendelik, maar daar was gister bykans 'n uitbundigheid voor die dienste. Vir sommige mense was dit dalk 'n probleem - veral vir diegene wat 'n besondere waardering vir 'n gewyde atmosfeer het - maar vir my was dit heerlik om te sien hoe die Familie kuier en gesels.



Hoe kan ons die entoesiasme van die nuwe jaar regdeur die jaar beleef? Kom ons oorweeg die volgende:
  1. God is getrou. Ons getuig dat die Here ons deur 2010 gedra het. Dat Hy voorsien het. Dat Hy genees het. Dat Hy bemoedig en versterk het ... ens, ens. Dit moet ons motiveer: Die Here sal ons NOOIT begewe en ons NOOIT verlaat nie. Die dankbaarheid wat ons in ons harte teenoor die Here vir sy getrouheid ervaar, moet ook ons geloof versterk sodat ons nie die onbekende toekoms sal vrees nie.
     
  2. Geluk kom van binne af. Om gelukkig te wees is nie 'n plek wat jy bereik nie - dit is 'n manier van lewe. Jy besluit om gelukkig te wees! Wanneer jy hierdie lewensingesteldheid het dan maak dit nie saak wat die omstandighede is waarin jy jou bevind nie - jy kan midde in dit alles steeds gelukkig wees ... steeds met blydskap en vrede in jou binnemens leef. Dit is tragies dat mense geluk in eksterne faktore wil vind. Die mens wat nie eerstens leer om geluk, vrede, dankbaarheid en vergenoegdheid in homself te vind nie, sal dit waarskynlik nooit in die lewe ervaar nie. Ek dank die Here dat ek by Hom skuiling vind, dat Hy my lei na waters waar daar rus is - ja, HY wat IN my is, is groter as hy wat in die wêreld is.
     
  3. Rus genoeg. Niemand dink jy is 'n held omdat jy jouself oorwerk nie. Jy beroof jouself van gesondheid en heelheid. Om weg te breek, te rus, bied aan jou die geleentheid om perspektief te verkry. Dit is dan wanneer jy weer met nuwe moed die lewe aanpak. Dit is egter ook nodig dat jy moet leer om die druk te hanteer - dit is 'n growwe nalating van jou verantwoordelikheid as leier indien jy telkens 'n in krisistyd wil wegbreek (of is dit wegkruip?) Slaap genoeg! Spandeer tyd alleen. Wees vars en vol lewensenergie - maar dan moet jy sorg dat jy genoeg rus. (O ja, onthou om genoeg water te drink).
     
  4. Leef vir iets. Aan die begin van die jaar is daar dinge wat mense hulleself voorneem om te doen. Sekere doelwitte. Dit is om lewensfokus en visie vir die lewe te hê. Dit gaan nie bloot net oor goeie intensies nie, maar oor doelgerigte en daadwerklike lewens-uitkomste. Dit is die entoesiasme wat daar aan die begin vir die jaar ervaar word. Skryf jou doelwitte neer. Werk vir jou 'n plan van aksie uit. Bid gedurig daaroor. Skryf jou vordering neer. Deur dit te doen sal jy regdeur die jaar fokus behou.
     
  5. Plaas gister agter jou. Ek hoor dikwels dat mense sê dat hulle bly is die ou jaar is verby - want dit was 'n moeilike jaar. Die realiteit van die saak is dat die ou dinge nie net weggaan omdat die nuwe jaar aangebreek het nie. Jy moet 'n besluit neem om nie vanuit die verlede te leef nie. Hy wat in gister leef, sien nie die sonsopkoms van vandag nie. Volg Paulus se raad in Fil 3:14 en plaas dinge agter jou, en sterk jouself doelbewus uit na wat voor is. Leer om dinge te verwerk. Vergewe mense wat jou verontreg het. Wanneer jy jouself doelbewus los maak van die verlede, kan jy die hede en toekoms in ontvangs neem -- en geniet!

  6. Kry waardering vir mekaar. Leer om die Here vir ander persone se uniekheid te dank. Dit sal waardering vir mekaar vergroot. Wanneer ons leer om mekaar te waardeer, sal ons ook besef dat ons mekaar nodig het. SAAM kan ons aan 'n toekoms bou. Ons gaan saam die onbekende toekoms in - en watter heerlike vertroosting dat ons mekaar kan ondersteun. Jy het nie nodig om alleen te wees nie.
Lewensgeluk is nie 'n plek wat jy bereik nie - dit is 'n manier van lewe! LEEF VOLUIT!