Tuesday, December 28, 2010

Ons gaan H.A.R.D. werk


Ek vertrou ons gaan die komende jaar ... wel, vir so lank ons in die lewe is, HARD werk. Wie nie werk nie, mag nie eet nie. En sukses is die resultaat van harde werk. Mark Murphy, die Uitvoerende Hoof van Leadership IQ beweer die probleem waarom mense dikwels nie hulle doelwitte bereik nie, is omdat hulle nie passievol daaroor is nie.

Uit navorsing word beweer dat sukses die gevolg is van behoorlike doelwitstelling. Daarom moet daar 'n perspektiefverandering plaasvind: In plaas daarvan dat ons onsself wil oortuig dat motivering en 'n gedissiplineerde optrede sal aanleiding gee tot die realisering van doelwitte is dit veeleerder die waarheid dat doelwitte tot 'n gemotiveerde en gedissiplineerde leefstyl sal aanleiding gee. Dit kom dus daarop neer dat die mens sy passie moet volg.

Daarom is dit nodig om H.A.R.D. te werk. Dit staan vir: Heartfelt, Animated, Required, en Difficult.

Jou doelwitte moet HARD wees - en dit is presies wat ek bedoel met die stelling dat ons HARD moet werk.

Heartfelt: Daar moet 'n emosionele verbintenis aan doelwitte wees. Dit moet iets wees wat jou eksistensieel raak.

Animated: Daar moet 'n bepaalde vooruitskouing aan die doelwitte gekoppel wees. Doelwitte moet dus deur 'n visie gemotiveer word.

Required: Daar moet 'n dringendheid bestaan wat die realisering van die doelwitte sal aansterk.

Difficult: Doelwitte moet jou uit jou gemaksone lig. Dit moet 'n uitdaging wees.

Diegene wat HARD werk, sal verseker die vrug daarvan pluk.

Strek jou uit na wat voor is.

Klik gerus op die skakel vir die notas van die boodskap: STREK JOU UIT NA WAT VOOR IS. Die boodskap is by die VEK Kerugma op 26-12-2010 bedien.
www.leefdiewoord.co.za/userfiles/file/Preke 2010/46 STREK JOU UIT NA VOOR IS.pdf

Monday, December 20, 2010

Terugblik op Sondag 19 Desember 2010


Ons het wonderlike dienste geniet. Dit is duidelik dat dit vakansie is, en dat baie van ons mense reeds weg is. GENIET DIE RUSKANS! Ek het egter weer Sondag geleer dat 'n mens nooit die verwagting van die minderheid moet onderskat nie.

Geniet die vakansie. Geseënde Kersfees. Voorspoed vir DV 2011.

Wednesday, September 29, 2010

Overcoming the dark side of leadership


Deur Gary L. McIntosh en Samuel D Rima

Verseker 'n MOET LEES boek vir elke leier wat daarna strewe om te ontwikkel in sy leierskapvaardigheid.

Om hierdie boek te lees, is soos om 'n spieël voor jouself op te tel. Ek plaas verseker hierdie leierskap boek in 'n ander klas. "Wat maak die boek so anders?" Hierdie boek is intens persoonlik van aard. Dit gaan dus nie oor die lesse en wyshede wat ander vanuit hulle besondere bestuursvernuf en leierskapstyl geleer het nie, maar oor die blote feit dat leierskap by self-leierskap begin. Die premis van die boek kan saamgevat word uit die volgende ses stellings:

  1. Elke leier het tot 'n mate een of ander soort persoonlike disfunksie (eina).
  2. Hierdie persoonlike disfunksie dien dikwels as 'n dryfkrag wat 'n persoon dring in sy begeerte of behoefte vir sukses.
  3. Baie leiers is nie bewys van hierdie dark side in hulle persoonlike mondering nie.
  4. Die persoonlike karaktertrekke wat 'n persoon dryf om sukses te behaal kan ook daartoe aanleiding gee dat 'n persoon faal in sy leierskap - in die boek word dit "the paradox of personal dysfunction in leadership" genoem.
  5. Om meer te leer omtrent die dark side of leadership stel 'n leier in staat om persoonlike oorwinning te ervaar wat 'n groot bydrae kan lewer in sy publieke oorwinning as leier.
  6. Die Woord van die Here gee aan ons behoorlike en spesifieke raad om die dark side of leadership te verwerk.
"How easy it is for us as spiritual leaders to use our ministry positions and the people we have been called to lead to advance our own goals and meet our own neurotic needs … As important as technical aspects of ministry are to success, their ability to overcome the dark side of their personality is even more vital to effective ministry. If the leader fails in this crucial area, all other skills are reduced in value. Dealing openly, directly, and Biblically with the dark side is crucial to the future health of the church and its ministry effectiveness in the world."

Die boek bestaan uit drie dele: A) Verstaan/definieer die dark side. B) Identifiseer hierdie faktore in jou eie lewe. C) Hoe om hierdie dark side te oorwin.

Die 19 hoofstukke van die boek is om die minste te sê 'n ontdekkingsreis en ontnugtering. En moet nie dink dat jy "gelukkig nie nodig het om dié boek te lees nie." Indien jy so redeneer wil ek JOU ten sterkste aanraai om tog die boek aan te skaf - JY HET DIT VERSEKER NODIG! Jou ontkenning is die bewys - vat so!

In die inleiding tot die boek skryf Samuel Rima: "The majority of tragically fallen Christian leaders during the past ten to fifteen years have been baby boomers who felt driven to achieve and succeed in an increasingly competitive and demanding church environment … The problem arises from the fact that success is not something one can have or possess. True success is a state of being not having. Unfortunately, many Christian leaders are driven manically to have success … As a result, even when these leaders succeed in creating a large congregation, a large facility, and all the other markers that measure success in the twenty-first-century church, they are no closer to actually having or possessing the inner feelings of success that have been seeking through their manic activity … I am convinced that reducing the potential of leadership failures must begin with challenging the current paradigm of measuring success in terms of having as opposed to being."

Die dark side is daardie innerlike (soms onbeheersde) drang, kompulsiewe optredes en of disfunksies wat ons dring om sekere doelwitte te bereik - of om onsself te bewys. Hierdie dark side is nie noodwendig net sleg nie. Dit kan ons motiveer om op te staan en met mening voort te beur, maar wanneer ons nie daarvan bewus is nie, kan die onvervulde behoeftes, vrese, codependence, en persoonlike verleenthede wat hiertoe aanleiding gegee het, ons leierskapstyl dikteer en mense-verhoudings skade doen. Die dark side word gekenmerk aan karaktertrekke soos trots (verwaandheid), selfsugtigheid, misleiding en verkeerde motiewe. Hierdie dark side kan onder andere onderskei word deur die volgende optrede: A) Die oënskynlik onverklaarbare, onversadigbare en voortdurende drang om 'n noemenswaardige impak of verskil te maak. B) 'n Oordrewe drang om deur die persone wat jy lei erken te word. C) Die ongegronde vrees dat jy nie genoeg doen nie. D) Die onnatuurlike behoefte om absoluut in beheer van alles en almal rondom jou te wees. E) 'n Geneigdheid na perfeksionisme, brassery, kompulsiewe spandabelrigheid, alkoholisme, ens.

Aangesien die boek oor leierskap handel, is dit nie vreemd om sekere evaluerings en vraelyste te vind wat jou help om die dark side in jou te ontdek en aan te spreek nie. In terme van hierdie ontdekkingsreis (of ontnugtering) word die volgende dark side tipes onderskei:

  1. Compulsive Leader (wil alles weet en beheer, statusbewus, soek die erkenning van persone wat in leierskapposisies is).
  2. Narcissistic Leader (wil alles wees, soek erkenning en bewondering van ander, oordrewe gevoel van "ek is belangrik")
  3. Paranoid Leader (Suspisieus, vreesbevange, jaloers, agterdogtig, hipersensitief ten opsigte van ander se optrede teenoor hulle, skep rigiede maatreëls om ander in te perk)
  4. Codependent Leader (Vredemakers, vermy konflik, reageer eerder as om pro-aktief op te tree, sukkel om uitdrukking te gee)
  5. Passive-Aggressive Leader (Hardkoppig, vergeetagtig, doelbewus oneffektief, klakous, traag, woede-uitbarstings)
Die laaste 7 hoofstukke in die boek handel oor 'n persoonlike plan van aksie wat jy kan implementeer om hierdie dark side te verwerk. Wat my veral byval van hierdie boek is die feit dat daar nie net voortdurend verwys word na die noodsaaklikheid van persoonlike toerekening nie, maar ook die onteenseglike inspraak van die Heilige Gees deur die Woord van God om jou te lei om hierdie dark side effektief te verwerk. Daar word ook aandag geskenk aan die noodsaaklikheid daarvan om vry te wees van onredelike en onbillike verwagtinge en om jou identiteit in Christus DAADWERKLIK te leef.

"Overcoming the Dark Side of Leadership" is baie meer as net 'n boek - dit is 'n onontbeerlike gereedskapstuk vir alle leiers!

PCdeJ
29-09-10

Monday, September 13, 2010

Terugblik op Sondag 12 September 2010


Ons het wonderlike dienste geniet, en die teenwoordigheid van die Here was so tasbaar. Dok is tans besig met 'n reeks boodskappe wat handel oor die verhouding tussen die Kerk en Israel. Baie insiggewend. Ons leef in wonderlike tye! Sal dit nie wonderlik wees indien hierdie geslag die skouspel van die eeue sal beleef nie - die wegraping van die Kerk! Tydens ons aanddienste hou ons tans 'n paar paneelgespreke oor aktuale en kontroversieële sake.

Ons het tydens hierdie gesprekke alreeds gesels oor onderwerpe soos:

  1. Is die Bybel die waarheid? Kan ons in ons dag steeds die Bybel beskou as 'n betroubare bron?
  2. Waarom word kinders van God siek?
  3. Hoekom lees ons dat God Farao se hart verhard het? En wat van dit wat Job alles deurgemaak het?
  4. Die misleiding van bloedlynvloeke teenoor die WAARHEID dat Christus jou vrygemaak het!
Eerskomende Sondag bedien Dok tydens die oggenddiens oor die regterstoel van Christus en die loon wat kinders van God gaan ontvang. En tydens ons aanddiens gaan ons 'n paneelgesprek voer oor die verskynsel dat daar alhoemeer Joodse gebruik in die kerk gehou word - wat leer die Woord van God ons hieromtrent?

Daar is egter 'n paar wonderlike dinge wat ek die afgelope Sondag weereens gesien het:

  1. Maak ruimte vir mekaar deur 'n bedieningsplatform daar te stel. Deur dit te doen verruim ons ons harte vir mekaar se uniekheid, en word die samekoms tot asemrowende moontlikhede verhef. Ja, dan word ekself ook deur die besondere bedieningsituasie geseën.
  2. Beplan die verloop van die diens, en wees ook sensitief vir die leiding van God se Gees. Ons moet ons dienste beplan. Dit dra by tot die vloei van gebeure. En wanneer die Gees van God ons lei om iets te doen wat nie noodwendig op die program aangeteken is nie, skep die orde wat by aanvang van die diens daargestel is 'n goeie basis vir die bestuur van die momente in die diens. Die Gees van God het nog nooit ons dienste ontwrig nie, aangesien ons beplanning bloot 'n raamwerk van die effektiewe bestuur van tyd is - wat in alle geval Gees-sensitief gedoen word.
  3. Maak seker dat almal wat tydens die diens betrokke is weet wat van hulle verwag word. Dit is die sin van beplanning. Ingeligte mense neem noodwendig beter besluite.
  4. Moet nooit die waarde en impak van vriendelikheid onderskat nie. Wanneer mense 'n diens bywoon, en deur vriendelike werkers ontvang word, voel hulle klaar tuis. Luister: jy kry nie 'n tweede kans om 'n eerste indruk te skep nie!
  5. Spreek waardering uit. Dit is altyd vir my 'n groot bron van seën wanneer ek sien hoe mense reageer wanneer ek vir hulle sê dat ek hulle waardeer, hulle bediening geniet, en dit as 'n voorreg beskou om saam met hulle in die gemeente te arbei. Ons voel nie bereig deur mekaar se uniekheid nie, in teendeel, wanneer ons opregte waardering uitspreek sê ons juis vir mekaar dat ons beter is SAAM met mekaar.
Ek dank die Here vir die bedieningspan van die VEK Kerugma - JULLE IS DIE BESTE!

PCdeJ
13-09-10

Wednesday, August 18, 2010

Manne Byeenkoms 18-08-10



Ons gesels oor die stelling: "Die beste en grootste nalatenskap wat jy eendag agter kan laat is 'n voorbeeld van hoe om 'n goeie lewe te leef."

Natuurlik is nie almal se idée van 'n "'n goeie lewe" dieselfde nie. Daarom sal ons dit moet definieer.

Wat is jou idee van 'n "goeie lewe?"

'n Persoonlike Lewensmissie Verklaring. Ek wil jou aanmoedig om vir jouself 'n persoonlike LEWENSMISSIE verklaring saam te stel, en jou lewe diensooreenkomstig te leef.
  1. Om jou te help, sal ek vir jou 'n notaboek gee.
  2. Ons noem dit jou MANDAAT.
  3. Wat is jou persoonlike lewenskode? Bid daaroor. Skryf dit neer. Implementeer die beginsels in jou lewe. Hou moed - moet nie wanneer jy nie 'n bepaalde reël oortree het moedeloos word en volhard in die proses om 'n lewe van integriteit te ontwikkel.
Jy kan onder andere die volgende waardes oorweeg:
  • Wees eerstens 'n toegewyde kind van God (Matt 6:33)
  • Wees 'n voorbeeld in jou eie huis.
  • Waarheid is die enigste opsie - en nie die beste opsie nie.
  • Luister na die raad van geestelike vriende/mentors.
  • Wees doelgerig en pro-aktief.
  • Behou 'n positiewe gesindheid.
  • Behou 'n sin van humor.
  • Bly fiks en gesond.
Dit kom dus daarop neer dat jy nie van jou lewe 'n gemors moet maak nie.

II Pet 1:3

Om ons definisie van "'n goeie lewe" te formuleer gaan ons aandag skenk aan 4 dinge:

a) Bly in ...
b) Bly naby ...
c) Bly weg ...
d) Bly wakker ...

Bly in ... die WOORD.

Die Woord van God moet jou lewe ten grondslag lê.
Jos 1:8, 9
Ps 119:9, 11

Bly naby ... 'n GOEIE VRIEND.

Wees naby 'n vriend wat jy nie kan uitoorlê nie.
Iemand wat in jou belang sal optree - en nie sal skroom om met jou die waarheid te gesels nie.
Iemand wat jy kan vertrou - "Don't do life alone!"
Iemand teenoor wie jy in 'n aanspreeklikheidsverhouding kan staan.
Spr 18:24

Bly weg ... van SONDE.

I Pet 4:2, 3
I Pet 5:8, 9
Moet nie saam met die duiwel deurnag nie.
Wees rein in jou verhoudings met dames  -  sal jy 'n vark vry?? - Wel ...

"'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid."
[Spr 11:22]

Bly wakker ... LEEF MET MENING.

Wees paraat!
Leef jou lewe met mening!
Jy kan nie op cruise control deur die lewe gaan nie.
If you stand for nothing, you'll fall for anything.

Geniet die lewe op 'n verantwoordelike manier.

Dit is 'n asemrowende avontuur om 'n man na God se hart te wees!

Ons gesels DV volgende week oor 'n positiewe lewenshouding.

Dit was goed om vanaand weer saam met jou te wees. Onthou die woorde van Deut 8:5:

"Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos 'n man sy seun onderrig."
[Deut 8:5]
PCdeJ

Die verhouding tussen ‘n Pa en sy dogter(s)


Ek het 'n goeie vriend wat die trotse pa van drie dogters is. Ek reken indien daar iemand is wat kan gesels oor die verhouding tussen 'n pa en sy dogters - dat hy verseker met gesag daaroor kan gesels. En die rede waarom ek sê dat hy met gesag oor hierdie onderwerp kan gesels, is nie bloot net omdat hy dogters het nie, maar vanweë die besonderse en navolgenswaardig verhouding wat daar tussen hom en sy meisiekinders bestaan. 
 
Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou in hierdie verband: 

  1. Waardering vir uniekheid.
    Laat ons dit maar vir mekaar sê - geen twee mense is dieselfde nie -- en VERSEKER is dit ook waar van sy drie dogters. Hulle is uniek in elke opsig. En die deernisvolle manier waarop hy sy meisiekinders hanteer dui juis aan in watter mate hy hulle uniekheid respekteer. Dit is ook hierdie respek vir hulle uniekheid wat daartoe aanleiding gee dat hy die drie dogters nie met mekaar vergelyk nie, en dat hy hulle geniet vir wie hulle is. Die wonderlike resultaat hiervan is dat die drie dogters geensins teenoor mekaar 'n gevoel bedreiging het nie, en dat hulle ook vir mekaar wedersydse respek het. Hierdie skitterende verhouding wat die drie dogters met mekaar het kan ook gesien word hoe hulle saam met mekaar lag ... en ook vir mekaar lag.

     

  2. Pa as die ridder. Hier is nou drie meisiekinders wat BAIE hoë verwagtinge van hulle toekomstige mans sal koester. En die manne sal sowaar hulle storie moet ken - nie net omdat hulle Pa verseker die mannetjies behoorlik gaan uitkyk, en uitvra (en waarskynlik gaan dreig nie) - maar omdat hierdie dogters weet wat hulle in 'n man wil hê - hulle Pa stel juis die deurslaggewend voorbeeld. Baie kêrels het al gereken hulle sal dit maak - maar, ai, die tyd het totaal die teendeel bewys. Verseker is daar telkens die hartseer en die vrae wanneer 'n verhouding nie (ver) vorder nie, maar die standaard is gestel - en dit sal verseker nie laat vaar word nie, want die sekuriteit wat sy daadwerklike voorbeeld van manlikheid tot gevolg het, is nie onderhandelbaar nie.
     

  3. Pa as vriend. Dit is ook die vrymoedigheid wat hierdie meisiekinders teenoor hulle Pa het wat veral by 'n mens byval vind. Hulle vertrou hulle Pa 100% Hulle het vir hom die nodige respek, maar hulle is nie vir hom bang nie. Hulle deel hul geheime en seer met hom - want hulle wéét hy koester hulle geluk en vooruitgang. Hulle sal sommer baie gou vir jou sê: "Ons pa verstaan 'n vrou!" ('n Mens sou so hoop - veral omdat hy die enigste man in hierdie gesin van vyf is.) Hy is as enigste manlike persoon in hul gesin wel in die minderheid - maar sy begrip, wysheid, onvoorwaardelike liefde, toeganklikheid, aanvaarding en geestelike leiding gee hom die voorsprong!
     

  4. Man van sy vrou. Dit is die laaste gedagte wat ek met julle wil deel. Die kosbaaste geskenk wat hierdie Pa sy drie dogters ooit kan gee - en wel doen - is die manier waarop hy hulle ma hanteer. Hy behandel haar soos 'n lady - en dit bring 'n trots in hierdie drie meisiekinders mee wat hulle selfvertroue gee. Hierdie drie meisiekinders is in eie reg ladies omdat hulle Pa hulle daardie ruimte gee. En die geluk wat hulle in hulle moeder sien sê eenvoudig vir hulle: Dit is wat dit beteken om volkome en merkwaardig vrou te wees. 
Sommer net so uit die hart!
PCdeJ
09-08-10

Tuesday, August 17, 2010

Terugblik op Sondag 15-08-10


Sondae is altyd vir my 'n opwindende dag. 'n Dag propvol verwagting. Dit laat my net weereens besef dat verwagting en hoop 'n deurslaggewende rol in die mens se lewe speel! Dit is verseker van die kernelemente wat daartoe bydrae dat die mens die moed het om op te staan en weer te probeer, en die moed het om aan te gaan.

Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou oor om met hoop te leef.

  1. Om met hoop te leef, is om 'n visie vir die toekoms te hê. Daar is te veel mense in ons dag wat hoop verloor het, en omdat hulle nie meer met hoop besiel is nie, sien hulle ook nie kans vir die lewe nie. Mense wat egter met hoop leef, is mense wat oortuig is daarvan dat die beste nog voorlê. Dit is mense wat verby die gegrendelde deure van die hede alreeds kan sien dat daar 'n heerlike uitkoms sal wees.

  2. Om met hoop te leef, is om oor te gaan tot aksie. Mense wat met hoop leef wag nie vir dinge om te gebeur en reageer dan daarop nie. Hulle is pro-aktief ingestel. Hulle besef dat goeie intensies presies net is wat dit sê dit is: goeie intensies. Daar moet tot aksie oorgegaan word sodat goeie intensies kan resulteer in heerlike dimensies van bediening en uitlewingsruimte.

  3. Om met die hoop te leef, is om die beste raak te sien. Hoopvolle mense is nie doemprofete nie. Dit is mense wat oortuig is daarvan dat elke mens, en in elke negatiewe omstandighede, daar tog een of ander skoonheid en heerlikheid na vore kan kom. Dit is mense wat optimisties raak oor die kleinste mate van vordering en groei wat daar in mense is; en opgewonde en liries kan raak oor die klein persentasie van verandering wat daar alreeds bespeur kan word.

  4. Om met hoop te leef, is om dankbaarheid 'n lewensdeug te maak. 'n Hoopvolle mens is 'n dankbare mens. Dit is 'n mens wat vergenoeg is. Dit is dus mense wat tussen die verwagting van 'n beter toekoms en die huidige omstandighede of realiteit 'n ekwilibrium bereik wat met dankbaarheid in balans gehou word.

  5. Om met hoop te leef, is om 'n greep op die lewe te hê. Hoopvolle mense is mense wat die lewenskuns bemeester om kop te hou. Dit is mense wat doelgerig is. Dit is mense wat 'n tipe deursettingsvermoë besit.

  6. Om met hoop te leef, is om 'n baken van hoop vir ander te wees. Ek wil dit waag om te sê dat hoopvolle mense nie selfsugtig is nie. Dit is mense wat ook vir ander mense rondom hulle 'n goeie en bekoorlike toekoms kan sien. Dit is mense waarby ander mense hoop skep - deur die positiewe inspraak wat daar in hulle lewe gemaak word deur die optimisme van 'n hoopvolle medemens. 
Om hoopvol te wees beteken nie om die realiteit van huidige omstandighede te ontken nie, maar om te besef dat die lewe groter is as wat jy het of nie het nie -- en om nie toe te laat dat jy die slaaf van jou omstandighede sal word nie.
 
Uit Spreke leer ons:
 
"'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom."
[Spr 13:12]
 
PCdeJ
17-08-10

Monday, August 9, 2010

‘n Terugblik op Sondag 08-08-10


Ons het gister goeie dienste geniet ... bywoning was ten spyte van die langnaweek nie sleg nie. Ons het verseker diegene wat as gevolg van die langnaweek nie teenwoordig was nie gemis, maar ons het nietemin heerlike dienste geniet.

Ek deel graag kortliks 'n paar gedagtes met julle ...


  1. Die reeks boodskappe wat Dok bedien is insiggewend en inspirerend. Dok bedien 'n reeks boodskappe wat handel oor die verhouding tussen die Kerk en Israel - met spesifieke verwysing daarna dat die kerk nie 'n soort geestelike Israel is nie. Dit is BAIE DUIDELIK twee verskillende entiteite en God werk met elkeen op 'n unieke manier.


  2. DissipelLand personeel demonstreer hulle passie vir kinders. Ten spyte van die langnaweek het die personeel van DissipelLand (VEK Kerugma Kinderbediening) besluit om steeds 'n program aan te bied. Dit maats het dit geniet, en sommer lekker partytjie gehou saam met Boeta wat gister (08-08-10) verjaar het.


  3. Die Diakonie van die VEK Kerugma is werklik 'n raakvat wenspan! Ek is so trots op hierdie span! Hulle is entoesiasties, hulpvaardig, doelgerig en vriendelik. Verseker ware ambassadeurs van die VEK Kerugma. Alles verloop met elke diens seepglad - net die bewys daarvan dat hulle hierdie saak met erns opneem.


  4. Die waarde van fellowship. Ons kuier elke Sondagaand na verloop van die diens saam in die saal. Daar is altyd heerlike koffie en tee ... en natuurlik iets om te eet. Die verskeie groepe dames wat die kuier@kerugma aande beplan en hanteer doen dit meesterlik. Mense kuier en gesels tog te lekker, en is glad nie haastig nie. Dit is heerlik om net te luister hoe mense lag, gesels en kuier - bykans of hulle mekaar maande laas gesien het.
DIE BESTE Lê NOG VOOR
PCdeJ
09-08-10

Saturday, August 7, 2010

Holy Discontent: Bill Hybels


Hierdie is verseker een van daardie boeke wat ek eenvoudig net nie kon neersit nie. En tussen al die ander daaglikse verpligtinge en ten spyte van die twee ander boeke wat ek besig is om te lees, moet ek sê dat hierdie boek my aangegryp het. Renier Pelser (KruisGenerasie Middelburg) het die boek vir my as 'n geskenk gegee - en dit is verseker baie meer as net 'n geskenk ... dit is een van daardie waardevolle lewensbeleggings.

In kort gaan die boek oor aktivisme as gevolg van; of gedring deur, iets wat jy eenvoudig net 'nie meer kan hanteer nie,' byvoorbeeld die nood van mense, die toestand van die kerk, leemtes in die samelewing, ens. Dit word deur Dr Robert Quinn beskryf as die verskuiwing vanuit 'n "normal state" tot 'n "fundamental state." Om dus passievol te leef, en so gedring te word deur jou passie vir 'n bepaalde saak dat jy nie sal rus totdat jy die wenslike deurbraak of radikale positiewe verandering van omstandighede beleef nie -- en dan te volhard om dit volhoubaar te hou.

Die boek rig 'n dringende pleidooi tot die adres van alle mense - EN VERAL GEESTELIKE LEIERS - om op die plek te kom waar hulle lewensprioriteite en God se bedoeling vir die mensdom vir 'n lewe van vryheid, geluksaligheid en oorwinning in kongruensie sal wees. Dit is 'n pleidooi vir onselfsugtige offervaardige diensknegskap!

Om die boek te lees, is om eenvoudig die spieël voor jouself op te tel, en jou eie reaksie oor die nood en ellende van mense waar te neem. Het jou eie gemak, gerief en vooruitgang jou laat vergeet van die derduisende mense wat sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld leef? Die mens is die kroon van God se skepping (Ps 8), en God het sy Seun in die wêreld gestuur sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh 3:17) - die vraag is net of die kerk in diens van die Goddelike missie is (Matt 28:19, Gal 6:9, 10, Efe 2:10), of het ons ryk en verryk geword, en geestelik arm, naak en blind - ellendig, beklaenswaardig en apaties (Open 3:14-22).

In Matt 9:36 lees ons dat Jesus die skare innig jammer gekry het omdat hulle moeg en uitgeput was - soos skape sonder 'n herder. Om hierdie ongemak te ervaar oor die nood van mense is juis dit wat Bill Hybels "holy discontent" noem. Die Here moet ons genadig wees dat ons nie aan "passion fatigue" sal ly nie.

Het ons 'n visie om mense vir die Koninkryk van Lig en Lewe te bereik - of om bloot net indrukwekkend te wees, en die ingewydes 'n gevoel van trots te gee ... het ons kerkgeboue monumente van ons sukses geword, of is dit die plek waar daar nog oor die nood van mense strategies beplan en opgetree word en waar daar deur sinergisme van passie 'n daadwerklike verskil in 'n stukkende samelewing gemaak word? Dit is skokkend en skandelik dat die sommige gemeentes van ons tyd beskryf word deur woorde soos: "over-entertained and under-challenged!"

Wat is daardie een ding wat jou slapelose nagte gee? Wat is die een ding wat aanhoudend onder jou aandag kom - asof jy eenvoudig nie daarvan kan weg kom nie? Wat is daardie een ding wat sonder ophou jou hart ruk en jou wese verskeur en tot jou skree-roep om iets daaromtrent te doen? Liewe vriend - dit is die plek of omstandigheid waar God jou wil gebruik!

Wanneer jy die bepaalde behoefte (holy discontent) geïdentifiseer het moet jy dit ...
  1. Voed: Maak seker dat jy op hoogte bly van die behoefte. Moet nie dié tipe omstandighede vermy nie, sodoende sal jy jou passie vir die saak brandend hou.

  2. Veg vir dit: Gaan oor tot aksie. Wees 'n passiegedrewe aktivis vir die Saak. Wees bereid om die prys daarvoor te betaal. Besef dat die Saak groter is as jyself en as die lewe self.

  3. Volg dit: Dit kan gebeur jou betrokkenheid in hierdie aanvanklike saak aanleiding gee tot; of oorgaan in 'n volgende saak. Volg dit. Laat toe dat die verloop jou ook verander.
Glo jy steeds dat God jou geroep het om 'n verskil te maak? Indien jy jou passie verloor het om hierdie roeping uit te leef, bid dan dat die Here jou passie weer aanvuur! Wat dreineer jou krag en passie? Bring 'n einde daaraan, en doen wat God jou geroep het om te doen.

Laat ons ryk wees in goeie werke! Burn in me fire of God!

PCdeJ
07-08-10

Tuesday, August 3, 2010

SPANWERK wat WERK


Ons het die afgelope naweek (30 Julie – 1 Augustus 2010) 'n Vroue Konferensie te Mpumalanga gehou. En alhoewel daar soveel hoogtepunte was, wil ek graag net die volgende gedagtes met julle deel wat ons uit hierdie naweek geleer het:

  1. Beplanning. Daar is die afgelope 11 maande deeglik beplan. Reëlings is voortdurend noukeurig gekontroleer.
  2. Kommunikasie. Wat sal dit jou baat indien daar deeglike beplanning is, maar daar is nie deeglike kommunikasie nie. Voortdurende kommunikasie en deursigtigheid verhoog lojliteit.
  3. Spanwerk. Dit is wanneer daar 'n gemeenskaplikheid bestaan tussen almal wat betrokke is, en elke persoon gedissiplineerd sy verantwoordelikheid nakom.
  4. Waardering. Wanneer daar op verskeie maniere waardering gekommunikeer word, hou dit mense entoesiasties. Dit laat mense ook besef dat jy hulle nie bloot net gebruik nie, maar dat jy hulle nodig het en dat die goeie samewerking en wedersydse respek vir mekaar se uniekheid die Saak bevorder.
  5. Dissipline. Geen saak kan suksesvol ontwikkel word tot die volle grootte daarvan sonder die nodige dissipline nie. Mense moet weet wat van hulle verwag word, en hulle moet by hierdie verwagtinge "gehou" word.
  6. Vriendelikheid. Wees beslis in jou optrede, maar altyd vriendelik.
  7. Doelgerigtheid. Wat is die sin daarvan indien jy van die Here verneem het wat om te doen; en of indien julle beplan het om 'n taak op 'n bepaalde manier te hanteer, en dan eenvoudig net daarvan af te wyk?
  8. Afhanklikheid. Dit is om te besef dat julle mekaar nodig het - EN DAT ELKEEN BESLIS VAN DIE HERE AFHANKLIK IS - om te doen wat daar gedoen moet word.
  9. Goeie kontakte. Dit is om die regte mense op die regte plekke te ken - dit is om DIE GUNS VAN DIE HERE TE GENIET. Moet nie hierdie guns as vanselfsprekend beskou nie, en moet NOOIT mense se goedheid misbruik nie!
  10. Bestuur van tyd. Moet nie tyd mors nie. Wees betyds. Beplan jou dag.
  11. Teenkanting en teenspoed. Tree volwasse op. Moet nie in 'n bekgeveg betrokke raak met mense wat bedreig voel; of wat nie jou visie deel nie. Jy weet wat jy van God ontvang het, jy weet wat jou motiewe en passie is. Omdat jy oortuig van God se wil is oor dit wat jy doen - is dit ook die mandaat waarmee jy optree.
  12. Paraatheid. Hiermee bedoel ek eenvoudig dat jy nie met mense moet praat oor dit wat God in jou hart inspreek voordat die tyd reg is nie, want sommige mense is vyande van jou visie. Maar dit is tog belangrik dat jy 'n binnekring-vriend-vennootskap sal hê met een of meer persone wat saam met jou kan bid en gesels oor die voornemens wat jy in jou hart opneem.
  13. Afsonderding. Al die bogenoemde sal van geen waarde wees indien die dringendheid van gebed nie beklemtoon word nie. Dit gaan nie bloot net om bepaalde kennis en vaardighede nie. Dit is UITERS NOODSAAKLIK om te besef dat jy eenvoudig van geen saak 'n sukses kan maak indien jy nie van die konstante inspraak van die Heilige Gees afhanklik is nie.
Ek dank die Here vir die WONDERLIKE EN GESEëNDE NAWEEK WAT ONS SAAM MET DIE HELE SPAN geniet het.

JULLE IS DIE BESTE!

Ons waardeer elkeen vir julle se unieke en besondere bydrae om van die konferensie die sukses te maak wat dit was!

Dankie dat jy toegelaat het dat die Heilige Gees op so besondere manier deur jou kon werk om gestalte te gee aan God se wil!

Thursday, July 15, 2010

Vriendskap - daar is baie meer op die spel


Ons gesels oor vriendskap oor die algemeen. Die uitdaging is om goeie vriende te hê, en ook om 'n goeie vriend te wees. Ons koester almal hoë verwagtings van vriendskap - dit is juis hoekom daar soms gesê word: "As jy sulke vriende het, het jy nie vyande nodig nie." Ons vind wonderlike verklarings in die Woord van die Here oor vriendskap: " 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer" [Spr 18:24]. "9 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel. 11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?" [Pred 4:9-11]

 
Wat is jou definisie van 'n goeie vriend? Wat is daardie kwaliteite wat jy in 'n vriend soek? Hoeveel van hierdie kwaliteite wat jy in 'n vriend soek, is ook kwaliteite wat jyself openbaar teenoor die persone met wie jy in 'n vriendskapsverhouding opgeneem is? Ons moet waak daarteen dat selfsugtigheid nie vriendskapsverhoudinge ruïneer nie. "Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n." [Fil 2:4] Vriendskap is 'n vennootskap.

 
Het jy die guts om ongesonde en onbehoorlike vriendskapsverhoudinge te termineer? Dink jy dat dit nodig is om vriendskapsverhoudings te beëindig indien dit 'n verkeerde invloed op jou het? Voordat ons die vraag kan antwoord sal jy eers vir jouself moet vasstel wat 'n verkeerde of negatiewe invloed is. Wat is die waardes en norms waarvolgens jy leef? Wat is jou lewenskode?

 
Die hoogtepunt van vriendskap is gesetel in die woorde: "Het U, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?" [II Kron 20:7] "En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem" [Jak 2:23]. Die allerbelangrikste verhouding wat jy kan aanknoop, is om in 'n verhouding met God te staan. God het reeds alles gedoen wat nodig is sodat hierdie verhouding in jou lewe ook 'n realiteit kan wees. Daarom is dit verseker dié onselfsugtigste verhouding van alle verhoudings, want God het alles gedoen wat nodig is om hierdie verhouding tot stand te bring, en jy moet bloot net daarop reageer. Die verskil wat daar egter ten opsigte van hierdie verhouding bestaan is dit: Jy kan besluit of jy met iemand in 'n verhouding wil staan, al dan nie. Maar indien jy besluit om nie in 'n verhouding met God te staan nie, is dit 'n fatale fout. Die keuse is steeds joune. Maar jy moet besef dat dit die teenoorgestelde van hierdie verhouding met God nie bloot net beteken dat jy nie in 'n verhouding met God staan nie, maar dat jy dan beskou word as 'n vyand van God. "weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" [Jak 4:4]. Dit laat my onwillekeurig dink aan Jesus se woorde: "13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel" [Joh 15:14]. Duidelik dat vriendskap van twee kante af kom: Jesus het sy lewe gegee (Rom 5:8). En nou is ons aan Hom ons toewyding verskuldig (Kol 1:10, I Kor 10:31).

‘n Great begin!


Ons vanaand ons eerste byeenkoms vir die jong ongetroude manne van die VEK Kerugma gehou. Verseker 'n goeie dinge wat vanaand hier gebeur het. Volgende week maak ons weer so, maar dan begin die jong ongetroude dames ook met 'n byeenkoms. Ek het net vanaand weereens besef dat die jongmense onder geweldige druk verkeer. En laat ek ook noem: Ons was verseker 'n groep doelgerigte manne bymekaar. Ons sien uit na volgende week se byeenkoms waartydens ons gesels oor: "MAG EK ... ??" Heleen gaan met die girls gesels oor een of ander girl-talk. Ek is opgewonde oor hierdie nuwe generasie manne wat nie skroom om voluit vir God te leef en doelgerig die lewe te geniet nie.

Ons het vanaand gesels oor vriendskapsverhoudinge wat geskoei is op Woord-beginsels. En die manne het gesels! Ons het die lekker kuier en gesels afgesluit met die uitdaging en motivering om onbeskaamd voluit as jongmanne vir God te leef en ons direkte omgewing tot eer van God te beïnvloed!

Monday, July 5, 2010

WOORDkonferensie 2011

Building a Dream Team | leadingwideopen.com

Dr Horak gebruik graag die woorde: DIE SPAN IS GROTER AS DIE MAN. Daar is min stellings en standpunte oor spanwerk en leierskap wat beter as dit gestel kan word. Lees gerus hierdie artikel - dit sal vir jou soos balsem wees. En miskien sal dit vir jou soos 'n ontnugtering voel wanneer jy besef jy is nie MENEER ALLES nie.

Building a Dream Team | leadingwideopen.com

Tuesday, June 29, 2010

Voel jy dalk bedreig

Voel jy dalk bedreig?

Oorweeg die volgende tien stellings eerlik.  Dit sal in ‘n mate ‘n aanduiding gee of jy onseker en bedreig voel.

  1. Jou beste en eerste antwoord is gewoonlik:  “nee.”
  2. Jy moet persoonlik alle besluite goedkeur en die uitkomste van besprekings kontroleer.
  3. Almal op die span werk  “vir”  jou en nie  “saam”  met jou nie.
  4. Jy gebruik die woord  “ek”  meer as die woord  “ons.”
  5. Jou idee van delegeer is om vir mense te sê wat hulle moet doen, hoe hulle dit moet doen en wanneer dit gedoen moet word.
  6. Jy sê baie meer:  “Doen dit”  as wat jy vra:  “Wat kan ons doen?”
  7. Niks gebeur; of niks mag gedoen word, sonder dat jy behoorlik daarvan kennis dra nie.
  8. Jy is kronies besig om die besluite wat die Span geneem het te verander of te herroep.
  9. Jy beheer die beskikbaarheid van inligting aangesien dit jou ‘n gevoel van mag gee.
  10. Jy tree baie streng op teenoor persone wat fouteer.

Miskien speel ek duiwelsadvokaat  ...  maar ek reken dat dit tog ‘n goeie basis kan vorm in die evaluering van jou leierskapstyl.

“Die span is groter as die man.”  Dr GC Horak

En jy het gedink jy het glad niks nie?


God is getrou!  Die boodskap het werklik soveel mense se lewens geraak  -  LOOF DIE HERE!  Die boodskap-aantekeninge is op die webwerf beskikbaar  www.leefdiewoord.co.za.  Dit gebeur so dikwels met ons dat ons kortsigtig is en onwaardigvoel.  Moet nie die dag van klein dinge verag nie.  In jou oë is dit glad niks nie, maar net 'n flessie met olie, maar in God se hand word dit 'n fontein van voorsiening.

klik hier vir preeknotas.

Friday, June 25, 2010

Five Ways to Use Authority for the Benefit of Your Team

Wanneer jy die outoriteit wat jy het reg gebruik, sal dit noodwendig daartoe lei dat mense vir jou respek het - hulle sal jou dan graag wil volg.

Five Ways to Use Authority for the Benefit of Your Team

Wednesday, June 23, 2010

Gemeente Bemarking [Deel 1]



Jy kry nooit ‘n tweede kans om ‘n eerste indruk te maak nie!  Die skokkende realiteit is dat verskeie gemeentes die vermoë verleer om met mense te connect.  Ons is dikwels net besig om ons verhouding met die ingewydes in stand te hou, maar weet dikwels nie hoe om effektief met buitestaanders te connect  nie.  Ons skiet onsself dikwels in die voet omdat ons meen die persepsies van mense is onbenullig en ons nie ons eie en huidige gemeente-praktyke wil evalueer nie.  Die vraag wat ons eerlik moet antwoord is of die gemeentes nog steeds op ‘n effektiewe manier met die verloregaande mensdom kontak maak?  Nie kompromie aangaan nie  -  KONTAK maak.  Is ons nog n voeling met die mensdom?

1.         Verandering maak nie noodwendig alles nuut nie.

Deur bloot net dinge te verander gaan nie noodwendig daartoe aanleiding gee dat mense met ander oë na julle kyk nie.  Nuwe logo’s, nuwe name en nuwe geboue gaan nie noodwendig en inherent lei tot nuwe groei nie.  Jy kan nooit die antwoord vir groei vir die gemeente vind daarin om slaafs net na te doen wat groeiende en florerende gemeentes doen nie.  Jy sal waarskynlik die antwoord veel eerder vind in wat hulle is  -  Die karakter en aard van die gemeente.

2.         Alle gemeentes doen bemarking!

Dit is verseker waar:  Alle gemeentes doen bemarking!  Elke gemeente is besig om ‘n bepaalde persepsie van hulleself in die oë van die gemeentelede en die gemeenskap te vorm.  Bemarking gaan in wese oor die bestuur van mense se persepsies.  Hierdie bestuur van persepsies veronderstel geensins dat die waarheid en die werklike stand van die gemeente gemanipuleer sal word in ‘n oppervlakkige poging om mense te beïndruk nie.  Hierdie bestuur van persepsies is om die waarheid en realiteit van die gemeente effektief en eerbaar voor te hou en te verteenwoordig.  ‘n Bemarkingsstrategie wat in die waarheid gegrondves is gee aan jou die vryheid en die voorreg om mense se persepsies te vorm.  Dit moet ook vermeld word dat mense se persepsies van enige saak vir mense só sterk is dat daar algemeen verwys word na hulle persepsie as die realiteit  --  hulle persepsie is vir hulle die ware stand van sake.  Daar is verskeie faktore wat bydrae tot die bepaalde persepsie wat mense van die gemeente vorm:  Bedieningstyl.  Estetiese vertoon.  Menseverhoudings.  Ontvangs en hantering van besoekers.  Liturgiese afgerondheid.  Leierskapstyl.  Persoonlike netheid  -  van die hele bedieningspan wat tydens dienste betrokke is.  Lof en aanbidding.  Ligging.  Webwerf.  Taalgebruik.  Advertensie.  Dekor.  Gedrukte media wat deur gemeente uitgegee word.  Leierskap Span.  Leerstelling.  Verskeie bedieninge in die gemeente, ens.

Die groot vraag is:  kan ons mense se persepsies verander?  JA!!  Anders sou ons nie kon sê dat bemarking handel oor die bestuur van persepsies nie.  Wat beteken bestuur?  

Bestuur is die vermoë om  (1)  helderdenkend te weet waar jy jouself bevind,  (2)  beslis te wees in waarheen jy oppad is,  (3)  algaande die nodige aanpassings te maak ten einde te verseker dat jy jou bestemming sal bereik.

In die lig van hierdie definisie van bestuur kan ons dus sê dat bemarking gaan oor  (1)  Die vermoë en insig om te weet wat mense se indrukke/persepsie van jou/julle is.  (2)  Die visie en vooruitsig van hoe jy wil hê mense oor jou/julle moet dink  ...  watter persepsie hulle van jou/julle moet hê.  (3)  Die aanpassings en vernaderings wat soms aangebring moet word, en deeglik deur gekommunikeer moet word ten einde te verseker dat mense die persepsie van jou/julle sal huldig wat jy/julle graag wil hê hulle van jou/julle moet hê.

Daarom is dit noodsaaklik om te besef dat bemarking in; en van, die gemeente ten eerste gaan oor wie julle is; of graag wil wees, alvorens jy/julle kan besluit wie julle graag wil bereik.  Bemarking is die NIE om voor te gee wat julle nie is nie.  Dit sal verseker mense wegdryf!  Moet ook nooit toelaat dat julle tekorte of gebreke julle verhinder om uitnemend op te tree nie.  Wees getrou in die klein dingetjies.  Besef ook jou absolute afhanklikheid teenoor die Heilige Gees om jou te lei om tot eer van God by te dra tot die positiewe vorming van mense se persepsies van die gemeente en van jouself.
  1. Wat is die persepsie wat die gemeenskap het van julle gemeente?
  2. Wat is die persepsie wat die breër spektrum van lidmate (betrokke, onbetrokke, ryk, arm, ens) van die gemeente het.
  3. Wat wil jy graag hê moet al hierdie mense van die gemeente dink?
  4. Wat is jy tans besig om te doen om mense se persepsies van die gemeente te verander?
  5. Wat sal jy in die toekoms moet doen om te verseker dat mense se persepsies van jou/julle sal verander.
Reising, Richard, L.  2006.  ChurchMarketing 101:  Preparing Your Church for Greater Growth.  Grand Rapids:  Baker Books.

Five Rules for Better Presentations

Maak jy gebruik van PowerPoint Presentations? Lees gerus hierdie artikel. Baie goeie wenke.

Five Rules for Better Presentations

Tuesday, June 22, 2010

Monday, June 21, 2010

Wat het alles VADERSDAG gebeur?

Waar sal ek begin  ...  Heleen en Boeta het my bederf  -  soos ons maar altyd in ons huis die gewoonte het om te doen.  So, op 'n manier was dit 'n dag soos elke ander dag  -  WANT HIERDIE DE JAGER GESIN IS ERG OOR MEKAAR!  Ek het wel 'n smart geskenk gekry.

Ons dienste was WONDERLIK!  Die VEK Kerugma-Familie kan kerk hou.  DANKIE VIR DIE GESKENK!  Dit was onverwags!  Ek het tydens die 09:30 diens, en Heleen tydens die 18:30 diens bedien.  Heleen het dit behoorlik gedoen  -  SY MAG MAAR!  Dit was 'n heerlike tyd in God se teenwoordigheid.

Ons het ook tydens die 18:30 diens 'n doopdiens gehad.  Baie geluk aan Cobus wat die groot stap geneem het!

Ek is oortuig daarvan dat hierdie week EEN BESONDERE WEEK GAAN WEES!

Saturday, June 19, 2010

Bestuur jou tyd

Daar is baie wat gedoen moet word, en wanneer jy besluit om jou lewe en bediening pro-aktief te bestuur is dit noodsaaklik dat jy jou tyd reg sal bestuur.  Die feit van die saak is dit:  Elke dag het net 24 uur.


Hierdie beginselwaarheid om die tyd reg te bestuur word treffend deur Paulus gestel wanneer hy ons vermaan om die tyd uit te koop  (Efe 5:16, Kol 4:5).  Ek het al dikwels gehoor dat mense sê dat hulle nie tyd het om aan een of ander saak aandag te skenk nie.  Somtyds is daar dinge wat eenvoudig net nie prioriteit is nie; of selfs nie noodsaaklik is nie, en daarom het jy nie nodig om dit te doen nie.  Maar die gevaar bestaan ook dat jy as gevolg van gebrekkige of onwyse tydsbestuur die gevaar loop om noodsaaklike dinge af te skeep, selfs te ignoreer, omdat jy jou tyd nie reg bestuur nie.  Dit beteken noodwendig dat jy ‘n duidelike visie en doelstellings moet hê sodat jy as gevolg van ‘n bepaalde doelgerigtheid vir sekere dinge  “nee”  kan sê.  Moet geensins dink dat jy ‘n held is indien jy gaan probeer om almal te vrede te stel en aan almal en alles aandag te skenk nie.  Dit sal jou effektiwiteite GROOTLIKS aan bande lê, en sal ongetwyfeld ook daartoe bydrae dat jy nie ‘n gevoel van genoegdoening beleef oor die dinge waarmee jy besig is nie.


Daar is verseker baie aspekte van tydsbestuur waaroor ons kan gesels.  Ek wil egter vir die doel van hierdie artikel net aan een van hierdie aspekte tyd bestee:  Moet nie toelaat dat veeleisende mense jou tyd beroof nie.  Dit is verseker só dat ons geduld met mekaar moet hê.  Dissipelskap en mentorskap vereis van enige toegewyde leier verseker aandag  -  EN TYD!  Maar jy moet wysheid en insig aan die dag lê om persone te identifiseer wat bloot net jou tyd wil opneem.  Dit is natuurlik nie ‘n verskoning om onbeskof of ontoereikend te wees nie.  Maak seker dat mense duidelik weet wat hulle van jou kan verwag en wat jy van hulle verwag, op so manier word daar duidelike grense gestel en word daar ‘n samewerkings ooreenkoms bereik wat bydra in hoe tyd bestuur word.


a)                   Sommige mense is eenvoudig net veeleisend.  Wees paraat om nie te dink dat mense veeleisend is net omdat jy ongeduldig is nie; of omdat jy sekere vooropgestelde idees van hulle het nie.  Mense is soms veeleisend omdat hulle onverwerkte emosionele bagasie het.  Die vraag is of hulle hierdie bagasie wil uitsorteer?  Veeleisende persone is soms mense wat nie sake wil uitsorteer nie; hulle soek regverdiging.  Hulle word nooit tevrede gestel nie  -  veral nie as daar van hulle verwag word om te verander nie.  Hulle ly aan selfbejammering en is dikwels selfsugtig.  Indien jy besluit om met hierdie persoon ‘n pad te stap maak seker dat die persoon verstaan dat jy begrip het, maar dat die persoon sy/haar samewerking sal gee.  Indien nie, moet nie skroom om nie langer met die persoon tyd te spandeer nie.  Dit mag dalk kras klink, maar  ...


b)                   Jy moet onthou dat daar ook ander mense is wat waarlik jou hulp en bystand nodig het.  Daarom moet jy nooit toelaat dat veeleisende mense jou in hulle klein wêreld toespin  -  sodat jy nie die nood en behoefte van ander kan raaksien nie.


Ek wil afsluit met die woorde van Hester Maartens.  Wie is Hester Maartens?  Ek kan myself bykans nie voorstel dat jy nog nie van haar gehoor het nie.  Dit is een van daardie lidmate wat enige Predikant droom om in sy gemeente te hê.  En sy het eenmaal vir my gesê:  “Philip, ‘n mens kan nie ‘n ding aan die lewe wurg nie.”  Indien jy besef dat jy jou tyd moet bestuur, sal jy ook besef dat jy nie kan toelaat dat jou tyd gemors word nie.


Groete
Philip

Wednesday, June 16, 2010

Kruisgenerasie, VEK Secunda

KruisGenerasie, VEK Secunda, Pastoor Theuhan Pretorius

Blogger van FORMAAT

Ek gaan probeer  ...  nee wag, ek gaan dit maak werk!  Daar is soveel kosbare inligting wat 'n mens daagliks mee te make het, dinge wat ek sommer net vinnig met jou wil deel.  En ek gaan nie langer uitstel om die geleentheid aan te gryp nie.

Ek vertrou dat jy sal besluit om my BLOG te volg.

Groete
PHILIP

Wednesday, May 5, 2010

Behou fokus

Daar is soveel dinge wat ons aandag kan wegrokkel van dit wat God ons geroep het om te doen.  En wanneer jy ingee vir hierdie versoekings en beproewings gebeur dit dikwels dat ‘n mens hoop verloor, en dat dit vir jou voel asof niks meer die moeite werd is nie.

Ek wil jou aanmoedig om weer te besin oor die roeping wat God oor jou lewe gesanksioneer het, en die wonderlike bediening wat Hy jou gegee het om jou te bemagtig om ‘n radikale verskil tot sy eer te maak.


Wees visionêr!  Dit beteken dat jy moed en hoop vir die toekoms het.  Die vraag na die geldigheid of die waarde van dit wat jy moet doen as jou gehoorsaamheid aan God se wil, word nie bepaal deur die gunstigheid van jou persoonlike omstandighede nie, maar deur die blote feit dat God deur jou wil werk om sy Koninkryk uit te bou.  Om visionêr te wees beteken om in essensie die vooruitsig van ‘n beter toekoms te hê.

VOLHARD OM TE DOEN WAT GOD JOU GEROEP HET OM TE DOEN!

Saturday, April 24, 2010

God se perspektief op jou bediening

“En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het.”
[I Tim 1:12]

Die bediening is verseker ‘n wonderlike plek. En verseker ook nie ‘n plek van stereotipes nie - dink net daaraan: Die mense waarmee jy werk is nie eers altyd dieselfde nie. En hiermee bedoel ek geensins dat jy suspisieus oor mense moet wees nie.

Oor die lief en die leed van die bediening kan daar verseker ‘n versameling boeke geskryf word, biblioteke vol. Elke bedienaar kan verseker uit sy ervaringe groot wyshede deel. So kan ons ook nostalgies raak oor hoogtepunte en soms weer die trauma en verwarde emosies beleef van teleurstellings wat verwerk moes word. Maar, hoe dit ook al sy, die bediening is ‘n wonderlike plek, ‘n asemrowende avontuur, en ‘n verruklike ervaring - en om te dink dat jy ook medewerker van God genoem word (I Kor 3:9).

Die afgelope tyd peins ek baie oor die woorde van Paulus in I Tim 1:12. En die volgende gedagtes het vir my uit hierdie bepeinsing na vore gekom:

Dank jy die Here vir die bediening?
Dank jy die Here vir die besondere bediening wat jy van Hom ontvang het?

Ons is só geneig om onsself soms met ander te vergelyk. Natuurlik kan ons by mekaar leer. Natuurlik is daar ‘n behoefte aan mentors. Maar ons moet nooit vergeet dat God ons as unieke individue geroep het vir die besondere taak waarvoor Hy ons aangestel het. Moet nie probeer om iemand anders te wees nie. Dit is juis dan wanneer jy nie vervulling in die bediening kan (en sal) beleef nie - want jy leef ‘n voorgee-lewe wat leeg is, en ‘n growwe minagting van God se erkenning van jou individualiteit is. My vrou het eenmaal die opmerking gemaak, en ek moet erken dat dit my baie beïndruk het: Hou op om te probeer inpas, God het jou gemaak om uit te staan. Wanneer jy as geroepene hierdie heerlike waarheid in jou lewe en bediening erken, sal jy by ander kan leer sonder om bedreig te voel, en sal jy ook nie in die dodelike passiedief van na-apery se strik trap nie.

Mense verloor hoop en passie in die bediening omdat hulle hul dankbaarheid weggee. Ja, jy het reg gelees: “Weggee.” Niemand kan jou dankbaarheid van jou steel nie, jy besluit self dat jy dit gaan weggee deur oor te gee aan jou omstandighede. En daarom wil ek jou aanmoedig om ‘n deeglike beeld (visie) van die bediening en van jou roeping vir jouself daar te stel, en die Here daarvoor te dank. Dit sal jou help om gefokus te bly, en dit sal deursettingsvermoë in jou lewe en bediening ontwikkel.

Maar ons erken ook prontheid dat hierdie dankbaarheid nie egosentries is nie, dat dit nie ‘n verwaande selfbeeld en selfverheffing is nie. Ons dankbaarheid is in afhanklikheid gegrondves. Dit beteken dus dat jy weet dat die Here jou geroep het, maar dat jy ook besef dat jy van die Here afhanklik is om te doen wat Hy van jou verwag. Ja, die Here verwag nie van jou iets wat Hy nie deur jou sal doen nie. Enersyds moet jy besef dat jy van die Here afhanklik is, en andersyds moet jy besef dat jy nie moet terugdeins van die uitdagings wat daar is nie!

Ten slotte, moet jy leer om ag te slaan op God se opinie van jou! Natuurlik moet jy weet hoe om kritiek en of kommentaar te hanteer. Baie mense het baie te sê, en ek het nie nodig om jou enigsins oor die geniepsige tonge, die bitterbek skinderpraatjies en onheilige sameswerings in te lig nie. Dit is duidelik: Die bediening vereis ‘n hoë mate van volwassenheid. En ja, jy moet ook bereid wees om aan jouself te werk -- aangesien dit uiters arrogant is om te dink dat jy al gearriveer het, en dat niemand jou iets kan leer nie. Iemand wat baie van homself dink, het verseker nie baie gedink nie. Maar om kritiek en kommentaar reg te hanteer, of te verwerk, is dit noodsaaklik dat jy allereers moet weet dat God jou getrou geag en in die bediening gestel het. Hierdie woorde van Paulus is ‘n onteenseglike verklaring van God se opinie van jou - en hierdie heerlike waarheid moet jou selfbeeld en selfwaarde as mens en as geroepene so konkretiseer dat jy met waardigheid en oortuiging - MAAR IN DIEPE AFHANKLIKHEID TEENOOR GOD - jou plek sal vol staan en jou verantwoordelikheid sal nakom.

Wanneer dit jou ingesteldheid en gesindheid in die bediening is, sal jy nie van die motivering van ander afhanklik wees nie. Ek ontken nie die waarde en noodsaaklikheid van aanmoediging en bemoediging nie, maar jy mag verseker nie daarvan afhanklik wees nie. Aan die hand van die woorde van I Tim 1:12 moet jy antwoord gee op die volgende vrae:

a) Wie het jou geroep?
b) Teenoor wie gaan jy rekenskap gee?
c) Wie sal jou beloon?

Thursday, March 18, 2010

WELKOM!

HOU HIERDIE SPASIE DOP!  Ek kan nie wag om met jou in gesprek te tree oor die plasings op ons blog nie.

Besoek gerus ons webwerf by http://www.leefdiewoord.co.za/.

Groete
PHILIP DE JAGER