“En ek dank Hom wat my krag gegee het, Christus Jesus, onse Here, dat Hy my getrou geag en in die bediening gestel het.”
[I Tim 1:12]
Die bediening is verseker ‘n wonderlike plek. En verseker ook nie ‘n plek van stereotipes nie - dink net daaraan: Die mense waarmee jy werk is nie eers altyd dieselfde nie. En hiermee bedoel ek geensins dat jy suspisieus oor mense moet wees nie.
Oor die lief en die leed van die bediening kan daar verseker ‘n versameling boeke geskryf word, biblioteke vol. Elke bedienaar kan verseker uit sy ervaringe groot wyshede deel. So kan ons ook nostalgies raak oor hoogtepunte en soms weer die trauma en verwarde emosies beleef van teleurstellings wat verwerk moes word. Maar, hoe dit ook al sy, die bediening is ‘n wonderlike plek, ‘n asemrowende avontuur, en ‘n verruklike ervaring - en om te dink dat jy ook medewerker van God genoem word (I Kor 3:9).
Die afgelope tyd peins ek baie oor die woorde van Paulus in I Tim 1:12. En die volgende gedagtes het vir my uit hierdie bepeinsing na vore gekom:
Dank jy die Here vir die bediening?
Dank jy die Here vir die besondere bediening wat jy van Hom ontvang het?
Ons is só geneig om onsself soms met ander te vergelyk. Natuurlik kan ons by mekaar leer. Natuurlik is daar ‘n behoefte aan mentors. Maar ons moet nooit vergeet dat God ons as unieke individue geroep het vir die besondere taak waarvoor Hy ons aangestel het. Moet nie probeer om iemand anders te wees nie. Dit is juis dan wanneer jy nie vervulling in die bediening kan (en sal) beleef nie - want jy leef ‘n voorgee-lewe wat leeg is, en ‘n growwe minagting van God se erkenning van jou individualiteit is. My vrou het eenmaal die opmerking gemaak, en ek moet erken dat dit my baie beïndruk het: Hou op om te probeer inpas, God het jou gemaak om uit te staan. Wanneer jy as geroepene hierdie heerlike waarheid in jou lewe en bediening erken, sal jy by ander kan leer sonder om bedreig te voel, en sal jy ook nie in die dodelike passiedief van na-apery se strik trap nie.
Mense verloor hoop en passie in die bediening omdat hulle hul dankbaarheid weggee. Ja, jy het reg gelees: “Weggee.” Niemand kan jou dankbaarheid van jou steel nie, jy besluit self dat jy dit gaan weggee deur oor te gee aan jou omstandighede. En daarom wil ek jou aanmoedig om ‘n deeglike beeld (visie) van die bediening en van jou roeping vir jouself daar te stel, en die Here daarvoor te dank. Dit sal jou help om gefokus te bly, en dit sal deursettingsvermoë in jou lewe en bediening ontwikkel.
Maar ons erken ook prontheid dat hierdie dankbaarheid nie egosentries is nie, dat dit nie ‘n verwaande selfbeeld en selfverheffing is nie. Ons dankbaarheid is in afhanklikheid gegrondves. Dit beteken dus dat jy weet dat die Here jou geroep het, maar dat jy ook besef dat jy van die Here afhanklik is om te doen wat Hy van jou verwag. Ja, die Here verwag nie van jou iets wat Hy nie deur jou sal doen nie. Enersyds moet jy besef dat jy van die Here afhanklik is, en andersyds moet jy besef dat jy nie moet terugdeins van die uitdagings wat daar is nie!
Ten slotte, moet jy leer om ag te slaan op God se opinie van jou! Natuurlik moet jy weet hoe om kritiek en of kommentaar te hanteer. Baie mense het baie te sê, en ek het nie nodig om jou enigsins oor die geniepsige tonge, die bitterbek skinderpraatjies en onheilige sameswerings in te lig nie. Dit is duidelik: Die bediening vereis ‘n hoë mate van volwassenheid. En ja, jy moet ook bereid wees om aan jouself te werk -- aangesien dit uiters arrogant is om te dink dat jy al gearriveer het, en dat niemand jou iets kan leer nie. Iemand wat baie van homself dink, het verseker nie baie gedink nie. Maar om kritiek en kommentaar reg te hanteer, of te verwerk, is dit noodsaaklik dat jy allereers moet weet dat God jou getrou geag en in die bediening gestel het. Hierdie woorde van Paulus is ‘n onteenseglike verklaring van God se opinie van jou - en hierdie heerlike waarheid moet jou selfbeeld en selfwaarde as mens en as geroepene so konkretiseer dat jy met waardigheid en oortuiging - MAAR IN DIEPE AFHANKLIKHEID TEENOOR GOD - jou plek sal vol staan en jou verantwoordelikheid sal nakom.
Wanneer dit jou ingesteldheid en gesindheid in die bediening is, sal jy nie van die motivering van ander afhanklik wees nie. Ek ontken nie die waarde en noodsaaklikheid van aanmoediging en bemoediging nie, maar jy mag verseker nie daarvan afhanklik wees nie. Aan die hand van die woorde van I Tim 1:12 moet jy antwoord gee op die volgende vrae:
a) Wie het jou geroep?
b) Teenoor wie gaan jy rekenskap gee?
c) Wie sal jou beloon?
No comments:
Post a Comment