Jy kry nooit ‘n tweede kans om ‘n eerste indruk te maak nie! Die skokkende realiteit is dat verskeie gemeentes die vermoë verleer om met mense te connect. Ons is dikwels net besig om ons verhouding met die ingewydes in stand te hou, maar weet dikwels nie hoe om effektief met buitestaanders te connect nie. Ons skiet onsself dikwels in die voet omdat ons meen die persepsies van mense is onbenullig en ons nie ons eie en huidige gemeente-praktyke wil evalueer nie. Die vraag wat ons eerlik moet antwoord is of die gemeentes nog steeds op ‘n effektiewe manier met die verloregaande mensdom kontak maak? Nie kompromie aangaan nie - KONTAK maak. Is ons nog n voeling met die mensdom?
1. Verandering maak nie noodwendig alles nuut nie.
Deur bloot net dinge te verander gaan nie noodwendig daartoe aanleiding gee dat mense met ander oë na julle kyk nie. Nuwe logo’s, nuwe name en nuwe geboue gaan nie noodwendig en inherent lei tot nuwe groei nie. Jy kan nooit die antwoord vir groei vir die gemeente vind daarin om slaafs net na te doen wat groeiende en florerende gemeentes doen nie. Jy sal waarskynlik die antwoord veel eerder vind in wat hulle is - Die karakter en aard van die gemeente.
2. Alle gemeentes doen bemarking!
Dit is verseker waar: Alle gemeentes doen bemarking! Elke gemeente is besig om ‘n bepaalde persepsie van hulleself in die oë van die gemeentelede en die gemeenskap te vorm. Bemarking gaan in wese oor die bestuur van mense se persepsies. Hierdie bestuur van persepsies veronderstel geensins dat die waarheid en die werklike stand van die gemeente gemanipuleer sal word in ‘n oppervlakkige poging om mense te beïndruk nie. Hierdie bestuur van persepsies is om die waarheid en realiteit van die gemeente effektief en eerbaar voor te hou en te verteenwoordig. ‘n Bemarkingsstrategie wat in die waarheid gegrondves is gee aan jou die vryheid en die voorreg om mense se persepsies te vorm. Dit moet ook vermeld word dat mense se persepsies van enige saak vir mense só sterk is dat daar algemeen verwys word na hulle persepsie as die realiteit -- hulle persepsie is vir hulle die ware stand van sake. Daar is verskeie faktore wat bydrae tot die bepaalde persepsie wat mense van die gemeente vorm: Bedieningstyl. Estetiese vertoon. Menseverhoudings. Ontvangs en hantering van besoekers. Liturgiese afgerondheid. Leierskapstyl. Persoonlike netheid - van die hele bedieningspan wat tydens dienste betrokke is. Lof en aanbidding. Ligging. Webwerf. Taalgebruik. Advertensie. Dekor. Gedrukte media wat deur gemeente uitgegee word. Leierskap Span. Leerstelling. Verskeie bedieninge in die gemeente, ens.
Die groot vraag is: kan ons mense se persepsies verander? JA!! Anders sou ons nie kon sê dat bemarking handel oor die bestuur van persepsies nie. Wat beteken bestuur?
Bestuur is die vermoë om (1) helderdenkend te weet waar jy jouself bevind, (2) beslis te wees in waarheen jy oppad is, (3) algaande die nodige aanpassings te maak ten einde te verseker dat jy jou bestemming sal bereik.
In die lig van hierdie definisie van bestuur kan ons dus sê dat bemarking gaan oor (1) Die vermoë en insig om te weet wat mense se indrukke/persepsie van jou/julle is. (2) Die visie en vooruitsig van hoe jy wil hê mense oor jou/julle moet dink ... watter persepsie hulle van jou/julle moet hê. (3) Die aanpassings en vernaderings wat soms aangebring moet word, en deeglik deur gekommunikeer moet word ten einde te verseker dat mense die persepsie van jou/julle sal huldig wat jy/julle graag wil hê hulle van jou/julle moet hê.
Daarom is dit noodsaaklik om te besef dat bemarking in; en van, die gemeente ten eerste gaan oor wie julle is; of graag wil wees, alvorens jy/julle kan besluit wie julle graag wil bereik. Bemarking is die NIE om voor te gee wat julle nie is nie. Dit sal verseker mense wegdryf! Moet ook nooit toelaat dat julle tekorte of gebreke julle verhinder om uitnemend op te tree nie. Wees getrou in die klein dingetjies. Besef ook jou absolute afhanklikheid teenoor die Heilige Gees om jou te lei om tot eer van God by te dra tot die positiewe vorming van mense se persepsies van die gemeente en van jouself.
- Wat is die persepsie wat die gemeenskap het van julle gemeente?
- Wat is die persepsie wat die breër spektrum van lidmate (betrokke, onbetrokke, ryk, arm, ens) van die gemeente het.
- Wat wil jy graag hê moet al hierdie mense van die gemeente dink?
- Wat is jy tans besig om te doen om mense se persepsies van die gemeente te verander?
- Wat sal jy in die toekoms moet doen om te verseker dat mense se persepsies van jou/julle sal verander.
Reising, Richard, L. 2006. ChurchMarketing 101: Preparing Your Church for Greater Growth. Grand Rapids: Baker Books.