Daar is baie wat gedoen moet word, en wanneer jy besluit om jou lewe en bediening pro-aktief te bestuur is dit noodsaaklik dat jy jou tyd reg sal bestuur. Die feit van die saak is dit: Elke dag het net 24 uur.
Hierdie beginselwaarheid om die tyd reg te bestuur word treffend deur Paulus gestel wanneer hy ons vermaan om die tyd uit te koop (Efe 5:16, Kol 4:5). Ek het al dikwels gehoor dat mense sê dat hulle nie tyd het om aan een of ander saak aandag te skenk nie. Somtyds is daar dinge wat eenvoudig net nie prioriteit is nie; of selfs nie noodsaaklik is nie, en daarom het jy nie nodig om dit te doen nie. Maar die gevaar bestaan ook dat jy as gevolg van gebrekkige of onwyse tydsbestuur die gevaar loop om noodsaaklike dinge af te skeep, selfs te ignoreer, omdat jy jou tyd nie reg bestuur nie. Dit beteken noodwendig dat jy ‘n duidelike visie en doelstellings moet hê sodat jy as gevolg van ‘n bepaalde doelgerigtheid vir sekere dinge “nee” kan sê. Moet geensins dink dat jy ‘n held is indien jy gaan probeer om almal te vrede te stel en aan almal en alles aandag te skenk nie. Dit sal jou effektiwiteite GROOTLIKS aan bande lê, en sal ongetwyfeld ook daartoe bydrae dat jy nie ‘n gevoel van genoegdoening beleef oor die dinge waarmee jy besig is nie.
Daar is verseker baie aspekte van tydsbestuur waaroor ons kan gesels. Ek wil egter vir die doel van hierdie artikel net aan een van hierdie aspekte tyd bestee: Moet nie toelaat dat veeleisende mense jou tyd beroof nie. Dit is verseker só dat ons geduld met mekaar moet hê. Dissipelskap en mentorskap vereis van enige toegewyde leier verseker aandag - EN TYD! Maar jy moet wysheid en insig aan die dag lê om persone te identifiseer wat bloot net jou tyd wil opneem. Dit is natuurlik nie ‘n verskoning om onbeskof of ontoereikend te wees nie. Maak seker dat mense duidelik weet wat hulle van jou kan verwag en wat jy van hulle verwag, op so manier word daar duidelike grense gestel en word daar ‘n samewerkings ooreenkoms bereik wat bydra in hoe tyd bestuur word.
a) Sommige mense is eenvoudig net veeleisend. Wees paraat om nie te dink dat mense veeleisend is net omdat jy ongeduldig is nie; of omdat jy sekere vooropgestelde idees van hulle het nie. Mense is soms veeleisend omdat hulle onverwerkte emosionele bagasie het. Die vraag is of hulle hierdie bagasie wil uitsorteer? Veeleisende persone is soms mense wat nie sake wil uitsorteer nie; hulle soek regverdiging. Hulle word nooit tevrede gestel nie - veral nie as daar van hulle verwag word om te verander nie. Hulle ly aan selfbejammering en is dikwels selfsugtig. Indien jy besluit om met hierdie persoon ‘n pad te stap maak seker dat die persoon verstaan dat jy begrip het, maar dat die persoon sy/haar samewerking sal gee. Indien nie, moet nie skroom om nie langer met die persoon tyd te spandeer nie. Dit mag dalk kras klink, maar ...
b) Jy moet onthou dat daar ook ander mense is wat waarlik jou hulp en bystand nodig het. Daarom moet jy nooit toelaat dat veeleisende mense jou in hulle klein wêreld toespin - sodat jy nie die nood en behoefte van ander kan raaksien nie.
Ek wil afsluit met die woorde van Hester Maartens. Wie is Hester Maartens? Ek kan myself bykans nie voorstel dat jy nog nie van haar gehoor het nie. Dit is een van daardie lidmate wat enige Predikant droom om in sy gemeente te hê. En sy het eenmaal vir my gesê: “Philip, ‘n mens kan nie ‘n ding aan die lewe wurg nie.” Indien jy besef dat jy jou tyd moet bestuur, sal jy ook besef dat jy nie kan toelaat dat jou tyd gemors word nie.
Groete
Philip
No comments:
Post a Comment