Ons gesels oor vriendskap oor die algemeen. Die uitdaging is om goeie vriende te hê, en ook om 'n goeie vriend te wees. Ons koester almal hoë verwagtings van vriendskap - dit is juis hoekom daar soms gesê word: "As jy sulke vriende het, het jy nie vyande nodig nie." Ons vind wonderlike verklarings in die Woord van die Here oor vriendskap: " 'n Man met baie vriende word geruïneer, maar daar is 'n vriend wat sterker aanhang as 'n broer" [Spr 18:24]. "9 Twee is beter as een, want hulle het 'n goeie beloning vir hulle moeitevolle arbeid. 10 Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar 'n tweede is om hom op te tel. 11 Verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm; maar hoe kan een allenig warm word?" [Pred 4:9-11]
Wat is jou definisie van 'n goeie vriend? Wat is daardie kwaliteite wat jy in 'n vriend soek? Hoeveel van hierdie kwaliteite wat jy in 'n vriend soek, is ook kwaliteite wat jyself openbaar teenoor die persone met wie jy in 'n vriendskapsverhouding opgeneem is? Ons moet waak daarteen dat selfsugtigheid nie vriendskapsverhoudinge ruïneer nie. "Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s'n." [Fil 2:4] Vriendskap is 'n vennootskap.
Het jy die guts om ongesonde en onbehoorlike vriendskapsverhoudinge te termineer? Dink jy dat dit nodig is om vriendskapsverhoudings te beëindig indien dit 'n verkeerde invloed op jou het? Voordat ons die vraag kan antwoord sal jy eers vir jouself moet vasstel wat 'n verkeerde of negatiewe invloed is. Wat is die waardes en norms waarvolgens jy leef? Wat is jou lewenskode?
Die hoogtepunt van vriendskap is gesetel in die woorde: "Het U, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?" [II Kron 20:7] "En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem" [Jak 2:23]. Die allerbelangrikste verhouding wat jy kan aanknoop, is om in 'n verhouding met God te staan. God het reeds alles gedoen wat nodig is sodat hierdie verhouding in jou lewe ook 'n realiteit kan wees. Daarom is dit verseker dié onselfsugtigste verhouding van alle verhoudings, want God het alles gedoen wat nodig is om hierdie verhouding tot stand te bring, en jy moet bloot net daarop reageer. Die verskil wat daar egter ten opsigte van hierdie verhouding bestaan is dit: Jy kan besluit of jy met iemand in 'n verhouding wil staan, al dan nie. Maar indien jy besluit om nie in 'n verhouding met God te staan nie, is dit 'n fatale fout. Die keuse is steeds joune. Maar jy moet besef dat dit die teenoorgestelde van hierdie verhouding met God nie bloot net beteken dat jy nie in 'n verhouding met God staan nie, maar dat jy dan beskou word as 'n vyand van God. "weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" [Jak 4:4]. Dit laat my onwillekeurig dink aan Jesus se woorde: "13 Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee. 14 Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel" [Joh 15:14]. Duidelik dat vriendskap van twee kante af kom: Jesus het sy lewe gegee (Rom 5:8). En nou is ons aan Hom ons toewyding verskuldig (Kol 1:10, I Kor 10:31).
