Wednesday, August 18, 2010

Manne Byeenkoms 18-08-10



Ons gesels oor die stelling: "Die beste en grootste nalatenskap wat jy eendag agter kan laat is 'n voorbeeld van hoe om 'n goeie lewe te leef."

Natuurlik is nie almal se idée van 'n "'n goeie lewe" dieselfde nie. Daarom sal ons dit moet definieer.

Wat is jou idee van 'n "goeie lewe?"

'n Persoonlike Lewensmissie Verklaring. Ek wil jou aanmoedig om vir jouself 'n persoonlike LEWENSMISSIE verklaring saam te stel, en jou lewe diensooreenkomstig te leef.
  1. Om jou te help, sal ek vir jou 'n notaboek gee.
  2. Ons noem dit jou MANDAAT.
  3. Wat is jou persoonlike lewenskode? Bid daaroor. Skryf dit neer. Implementeer die beginsels in jou lewe. Hou moed - moet nie wanneer jy nie 'n bepaalde reël oortree het moedeloos word en volhard in die proses om 'n lewe van integriteit te ontwikkel.
Jy kan onder andere die volgende waardes oorweeg:
  • Wees eerstens 'n toegewyde kind van God (Matt 6:33)
  • Wees 'n voorbeeld in jou eie huis.
  • Waarheid is die enigste opsie - en nie die beste opsie nie.
  • Luister na die raad van geestelike vriende/mentors.
  • Wees doelgerig en pro-aktief.
  • Behou 'n positiewe gesindheid.
  • Behou 'n sin van humor.
  • Bly fiks en gesond.
Dit kom dus daarop neer dat jy nie van jou lewe 'n gemors moet maak nie.

II Pet 1:3

Om ons definisie van "'n goeie lewe" te formuleer gaan ons aandag skenk aan 4 dinge:

a) Bly in ...
b) Bly naby ...
c) Bly weg ...
d) Bly wakker ...

Bly in ... die WOORD.

Die Woord van God moet jou lewe ten grondslag lê.
Jos 1:8, 9
Ps 119:9, 11

Bly naby ... 'n GOEIE VRIEND.

Wees naby 'n vriend wat jy nie kan uitoorlê nie.
Iemand wat in jou belang sal optree - en nie sal skroom om met jou die waarheid te gesels nie.
Iemand wat jy kan vertrou - "Don't do life alone!"
Iemand teenoor wie jy in 'n aanspreeklikheidsverhouding kan staan.
Spr 18:24

Bly weg ... van SONDE.

I Pet 4:2, 3
I Pet 5:8, 9
Moet nie saam met die duiwel deurnag nie.
Wees rein in jou verhoudings met dames  -  sal jy 'n vark vry?? - Wel ...

"'n Goue ring in 'n vark se snuit, so is 'n vrou wat mooi is maar sonder beleid."
[Spr 11:22]

Bly wakker ... LEEF MET MENING.

Wees paraat!
Leef jou lewe met mening!
Jy kan nie op cruise control deur die lewe gaan nie.
If you stand for nothing, you'll fall for anything.

Geniet die lewe op 'n verantwoordelike manier.

Dit is 'n asemrowende avontuur om 'n man na God se hart te wees!

Ons gesels DV volgende week oor 'n positiewe lewenshouding.

Dit was goed om vanaand weer saam met jou te wees. Onthou die woorde van Deut 8:5:

"Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos 'n man sy seun onderrig."
[Deut 8:5]
PCdeJ

Die verhouding tussen ‘n Pa en sy dogter(s)


Ek het 'n goeie vriend wat die trotse pa van drie dogters is. Ek reken indien daar iemand is wat kan gesels oor die verhouding tussen 'n pa en sy dogters - dat hy verseker met gesag daaroor kan gesels. En die rede waarom ek sê dat hy met gesag oor hierdie onderwerp kan gesels, is nie bloot net omdat hy dogters het nie, maar vanweë die besonderse en navolgenswaardig verhouding wat daar tussen hom en sy meisiekinders bestaan. 
 
Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou in hierdie verband: 

  1. Waardering vir uniekheid.
    Laat ons dit maar vir mekaar sê - geen twee mense is dieselfde nie -- en VERSEKER is dit ook waar van sy drie dogters. Hulle is uniek in elke opsig. En die deernisvolle manier waarop hy sy meisiekinders hanteer dui juis aan in watter mate hy hulle uniekheid respekteer. Dit is ook hierdie respek vir hulle uniekheid wat daartoe aanleiding gee dat hy die drie dogters nie met mekaar vergelyk nie, en dat hy hulle geniet vir wie hulle is. Die wonderlike resultaat hiervan is dat die drie dogters geensins teenoor mekaar 'n gevoel bedreiging het nie, en dat hulle ook vir mekaar wedersydse respek het. Hierdie skitterende verhouding wat die drie dogters met mekaar het kan ook gesien word hoe hulle saam met mekaar lag ... en ook vir mekaar lag.

     

  2. Pa as die ridder. Hier is nou drie meisiekinders wat BAIE hoë verwagtinge van hulle toekomstige mans sal koester. En die manne sal sowaar hulle storie moet ken - nie net omdat hulle Pa verseker die mannetjies behoorlik gaan uitkyk, en uitvra (en waarskynlik gaan dreig nie) - maar omdat hierdie dogters weet wat hulle in 'n man wil hê - hulle Pa stel juis die deurslaggewend voorbeeld. Baie kêrels het al gereken hulle sal dit maak - maar, ai, die tyd het totaal die teendeel bewys. Verseker is daar telkens die hartseer en die vrae wanneer 'n verhouding nie (ver) vorder nie, maar die standaard is gestel - en dit sal verseker nie laat vaar word nie, want die sekuriteit wat sy daadwerklike voorbeeld van manlikheid tot gevolg het, is nie onderhandelbaar nie.
     

  3. Pa as vriend. Dit is ook die vrymoedigheid wat hierdie meisiekinders teenoor hulle Pa het wat veral by 'n mens byval vind. Hulle vertrou hulle Pa 100% Hulle het vir hom die nodige respek, maar hulle is nie vir hom bang nie. Hulle deel hul geheime en seer met hom - want hulle wéét hy koester hulle geluk en vooruitgang. Hulle sal sommer baie gou vir jou sê: "Ons pa verstaan 'n vrou!" ('n Mens sou so hoop - veral omdat hy die enigste man in hierdie gesin van vyf is.) Hy is as enigste manlike persoon in hul gesin wel in die minderheid - maar sy begrip, wysheid, onvoorwaardelike liefde, toeganklikheid, aanvaarding en geestelike leiding gee hom die voorsprong!
     

  4. Man van sy vrou. Dit is die laaste gedagte wat ek met julle wil deel. Die kosbaaste geskenk wat hierdie Pa sy drie dogters ooit kan gee - en wel doen - is die manier waarop hy hulle ma hanteer. Hy behandel haar soos 'n lady - en dit bring 'n trots in hierdie drie meisiekinders mee wat hulle selfvertroue gee. Hierdie drie meisiekinders is in eie reg ladies omdat hulle Pa hulle daardie ruimte gee. En die geluk wat hulle in hulle moeder sien sê eenvoudig vir hulle: Dit is wat dit beteken om volkome en merkwaardig vrou te wees. 
Sommer net so uit die hart!
PCdeJ
09-08-10

Tuesday, August 17, 2010

Terugblik op Sondag 15-08-10


Sondae is altyd vir my 'n opwindende dag. 'n Dag propvol verwagting. Dit laat my net weereens besef dat verwagting en hoop 'n deurslaggewende rol in die mens se lewe speel! Dit is verseker van die kernelemente wat daartoe bydrae dat die mens die moed het om op te staan en weer te probeer, en die moed het om aan te gaan.

Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou oor om met hoop te leef.

  1. Om met hoop te leef, is om 'n visie vir die toekoms te hê. Daar is te veel mense in ons dag wat hoop verloor het, en omdat hulle nie meer met hoop besiel is nie, sien hulle ook nie kans vir die lewe nie. Mense wat egter met hoop leef, is mense wat oortuig is daarvan dat die beste nog voorlê. Dit is mense wat verby die gegrendelde deure van die hede alreeds kan sien dat daar 'n heerlike uitkoms sal wees.

  2. Om met hoop te leef, is om oor te gaan tot aksie. Mense wat met hoop leef wag nie vir dinge om te gebeur en reageer dan daarop nie. Hulle is pro-aktief ingestel. Hulle besef dat goeie intensies presies net is wat dit sê dit is: goeie intensies. Daar moet tot aksie oorgegaan word sodat goeie intensies kan resulteer in heerlike dimensies van bediening en uitlewingsruimte.

  3. Om met die hoop te leef, is om die beste raak te sien. Hoopvolle mense is nie doemprofete nie. Dit is mense wat oortuig is daarvan dat elke mens, en in elke negatiewe omstandighede, daar tog een of ander skoonheid en heerlikheid na vore kan kom. Dit is mense wat optimisties raak oor die kleinste mate van vordering en groei wat daar in mense is; en opgewonde en liries kan raak oor die klein persentasie van verandering wat daar alreeds bespeur kan word.

  4. Om met hoop te leef, is om dankbaarheid 'n lewensdeug te maak. 'n Hoopvolle mens is 'n dankbare mens. Dit is 'n mens wat vergenoeg is. Dit is dus mense wat tussen die verwagting van 'n beter toekoms en die huidige omstandighede of realiteit 'n ekwilibrium bereik wat met dankbaarheid in balans gehou word.

  5. Om met hoop te leef, is om 'n greep op die lewe te hê. Hoopvolle mense is mense wat die lewenskuns bemeester om kop te hou. Dit is mense wat doelgerig is. Dit is mense wat 'n tipe deursettingsvermoë besit.

  6. Om met hoop te leef, is om 'n baken van hoop vir ander te wees. Ek wil dit waag om te sê dat hoopvolle mense nie selfsugtig is nie. Dit is mense wat ook vir ander mense rondom hulle 'n goeie en bekoorlike toekoms kan sien. Dit is mense waarby ander mense hoop skep - deur die positiewe inspraak wat daar in hulle lewe gemaak word deur die optimisme van 'n hoopvolle medemens. 
Om hoopvol te wees beteken nie om die realiteit van huidige omstandighede te ontken nie, maar om te besef dat die lewe groter is as wat jy het of nie het nie -- en om nie toe te laat dat jy die slaaf van jou omstandighede sal word nie.
 
Uit Spreke leer ons:
 
"'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom."
[Spr 13:12]
 
PCdeJ
17-08-10

Monday, August 9, 2010

‘n Terugblik op Sondag 08-08-10


Ons het gister goeie dienste geniet ... bywoning was ten spyte van die langnaweek nie sleg nie. Ons het verseker diegene wat as gevolg van die langnaweek nie teenwoordig was nie gemis, maar ons het nietemin heerlike dienste geniet.

Ek deel graag kortliks 'n paar gedagtes met julle ...


  1. Die reeks boodskappe wat Dok bedien is insiggewend en inspirerend. Dok bedien 'n reeks boodskappe wat handel oor die verhouding tussen die Kerk en Israel - met spesifieke verwysing daarna dat die kerk nie 'n soort geestelike Israel is nie. Dit is BAIE DUIDELIK twee verskillende entiteite en God werk met elkeen op 'n unieke manier.


  2. DissipelLand personeel demonstreer hulle passie vir kinders. Ten spyte van die langnaweek het die personeel van DissipelLand (VEK Kerugma Kinderbediening) besluit om steeds 'n program aan te bied. Dit maats het dit geniet, en sommer lekker partytjie gehou saam met Boeta wat gister (08-08-10) verjaar het.


  3. Die Diakonie van die VEK Kerugma is werklik 'n raakvat wenspan! Ek is so trots op hierdie span! Hulle is entoesiasties, hulpvaardig, doelgerig en vriendelik. Verseker ware ambassadeurs van die VEK Kerugma. Alles verloop met elke diens seepglad - net die bewys daarvan dat hulle hierdie saak met erns opneem.


  4. Die waarde van fellowship. Ons kuier elke Sondagaand na verloop van die diens saam in die saal. Daar is altyd heerlike koffie en tee ... en natuurlik iets om te eet. Die verskeie groepe dames wat die kuier@kerugma aande beplan en hanteer doen dit meesterlik. Mense kuier en gesels tog te lekker, en is glad nie haastig nie. Dit is heerlik om net te luister hoe mense lag, gesels en kuier - bykans of hulle mekaar maande laas gesien het.
DIE BESTE Lê NOG VOOR
PCdeJ
09-08-10

Saturday, August 7, 2010

Holy Discontent: Bill Hybels


Hierdie is verseker een van daardie boeke wat ek eenvoudig net nie kon neersit nie. En tussen al die ander daaglikse verpligtinge en ten spyte van die twee ander boeke wat ek besig is om te lees, moet ek sê dat hierdie boek my aangegryp het. Renier Pelser (KruisGenerasie Middelburg) het die boek vir my as 'n geskenk gegee - en dit is verseker baie meer as net 'n geskenk ... dit is een van daardie waardevolle lewensbeleggings.

In kort gaan die boek oor aktivisme as gevolg van; of gedring deur, iets wat jy eenvoudig net 'nie meer kan hanteer nie,' byvoorbeeld die nood van mense, die toestand van die kerk, leemtes in die samelewing, ens. Dit word deur Dr Robert Quinn beskryf as die verskuiwing vanuit 'n "normal state" tot 'n "fundamental state." Om dus passievol te leef, en so gedring te word deur jou passie vir 'n bepaalde saak dat jy nie sal rus totdat jy die wenslike deurbraak of radikale positiewe verandering van omstandighede beleef nie -- en dan te volhard om dit volhoubaar te hou.

Die boek rig 'n dringende pleidooi tot die adres van alle mense - EN VERAL GEESTELIKE LEIERS - om op die plek te kom waar hulle lewensprioriteite en God se bedoeling vir die mensdom vir 'n lewe van vryheid, geluksaligheid en oorwinning in kongruensie sal wees. Dit is 'n pleidooi vir onselfsugtige offervaardige diensknegskap!

Om die boek te lees, is om eenvoudig die spieël voor jouself op te tel, en jou eie reaksie oor die nood en ellende van mense waar te neem. Het jou eie gemak, gerief en vooruitgang jou laat vergeet van die derduisende mense wat sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld leef? Die mens is die kroon van God se skepping (Ps 8), en God het sy Seun in die wêreld gestuur sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh 3:17) - die vraag is net of die kerk in diens van die Goddelike missie is (Matt 28:19, Gal 6:9, 10, Efe 2:10), of het ons ryk en verryk geword, en geestelik arm, naak en blind - ellendig, beklaenswaardig en apaties (Open 3:14-22).

In Matt 9:36 lees ons dat Jesus die skare innig jammer gekry het omdat hulle moeg en uitgeput was - soos skape sonder 'n herder. Om hierdie ongemak te ervaar oor die nood van mense is juis dit wat Bill Hybels "holy discontent" noem. Die Here moet ons genadig wees dat ons nie aan "passion fatigue" sal ly nie.

Het ons 'n visie om mense vir die Koninkryk van Lig en Lewe te bereik - of om bloot net indrukwekkend te wees, en die ingewydes 'n gevoel van trots te gee ... het ons kerkgeboue monumente van ons sukses geword, of is dit die plek waar daar nog oor die nood van mense strategies beplan en opgetree word en waar daar deur sinergisme van passie 'n daadwerklike verskil in 'n stukkende samelewing gemaak word? Dit is skokkend en skandelik dat die sommige gemeentes van ons tyd beskryf word deur woorde soos: "over-entertained and under-challenged!"

Wat is daardie een ding wat jou slapelose nagte gee? Wat is die een ding wat aanhoudend onder jou aandag kom - asof jy eenvoudig nie daarvan kan weg kom nie? Wat is daardie een ding wat sonder ophou jou hart ruk en jou wese verskeur en tot jou skree-roep om iets daaromtrent te doen? Liewe vriend - dit is die plek of omstandigheid waar God jou wil gebruik!

Wanneer jy die bepaalde behoefte (holy discontent) geïdentifiseer het moet jy dit ...
  1. Voed: Maak seker dat jy op hoogte bly van die behoefte. Moet nie dié tipe omstandighede vermy nie, sodoende sal jy jou passie vir die saak brandend hou.

  2. Veg vir dit: Gaan oor tot aksie. Wees 'n passiegedrewe aktivis vir die Saak. Wees bereid om die prys daarvoor te betaal. Besef dat die Saak groter is as jyself en as die lewe self.

  3. Volg dit: Dit kan gebeur jou betrokkenheid in hierdie aanvanklike saak aanleiding gee tot; of oorgaan in 'n volgende saak. Volg dit. Laat toe dat die verloop jou ook verander.
Glo jy steeds dat God jou geroep het om 'n verskil te maak? Indien jy jou passie verloor het om hierdie roeping uit te leef, bid dan dat die Here jou passie weer aanvuur! Wat dreineer jou krag en passie? Bring 'n einde daaraan, en doen wat God jou geroep het om te doen.

Laat ons ryk wees in goeie werke! Burn in me fire of God!

PCdeJ
07-08-10

Tuesday, August 3, 2010

SPANWERK wat WERK


Ons het die afgelope naweek (30 Julie – 1 Augustus 2010) 'n Vroue Konferensie te Mpumalanga gehou. En alhoewel daar soveel hoogtepunte was, wil ek graag net die volgende gedagtes met julle deel wat ons uit hierdie naweek geleer het:

  1. Beplanning. Daar is die afgelope 11 maande deeglik beplan. Reëlings is voortdurend noukeurig gekontroleer.
  2. Kommunikasie. Wat sal dit jou baat indien daar deeglike beplanning is, maar daar is nie deeglike kommunikasie nie. Voortdurende kommunikasie en deursigtigheid verhoog lojliteit.
  3. Spanwerk. Dit is wanneer daar 'n gemeenskaplikheid bestaan tussen almal wat betrokke is, en elke persoon gedissiplineerd sy verantwoordelikheid nakom.
  4. Waardering. Wanneer daar op verskeie maniere waardering gekommunikeer word, hou dit mense entoesiasties. Dit laat mense ook besef dat jy hulle nie bloot net gebruik nie, maar dat jy hulle nodig het en dat die goeie samewerking en wedersydse respek vir mekaar se uniekheid die Saak bevorder.
  5. Dissipline. Geen saak kan suksesvol ontwikkel word tot die volle grootte daarvan sonder die nodige dissipline nie. Mense moet weet wat van hulle verwag word, en hulle moet by hierdie verwagtinge "gehou" word.
  6. Vriendelikheid. Wees beslis in jou optrede, maar altyd vriendelik.
  7. Doelgerigtheid. Wat is die sin daarvan indien jy van die Here verneem het wat om te doen; en of indien julle beplan het om 'n taak op 'n bepaalde manier te hanteer, en dan eenvoudig net daarvan af te wyk?
  8. Afhanklikheid. Dit is om te besef dat julle mekaar nodig het - EN DAT ELKEEN BESLIS VAN DIE HERE AFHANKLIK IS - om te doen wat daar gedoen moet word.
  9. Goeie kontakte. Dit is om die regte mense op die regte plekke te ken - dit is om DIE GUNS VAN DIE HERE TE GENIET. Moet nie hierdie guns as vanselfsprekend beskou nie, en moet NOOIT mense se goedheid misbruik nie!
  10. Bestuur van tyd. Moet nie tyd mors nie. Wees betyds. Beplan jou dag.
  11. Teenkanting en teenspoed. Tree volwasse op. Moet nie in 'n bekgeveg betrokke raak met mense wat bedreig voel; of wat nie jou visie deel nie. Jy weet wat jy van God ontvang het, jy weet wat jou motiewe en passie is. Omdat jy oortuig van God se wil is oor dit wat jy doen - is dit ook die mandaat waarmee jy optree.
  12. Paraatheid. Hiermee bedoel ek eenvoudig dat jy nie met mense moet praat oor dit wat God in jou hart inspreek voordat die tyd reg is nie, want sommige mense is vyande van jou visie. Maar dit is tog belangrik dat jy 'n binnekring-vriend-vennootskap sal hê met een of meer persone wat saam met jou kan bid en gesels oor die voornemens wat jy in jou hart opneem.
  13. Afsonderding. Al die bogenoemde sal van geen waarde wees indien die dringendheid van gebed nie beklemtoon word nie. Dit gaan nie bloot net om bepaalde kennis en vaardighede nie. Dit is UITERS NOODSAAKLIK om te besef dat jy eenvoudig van geen saak 'n sukses kan maak indien jy nie van die konstante inspraak van die Heilige Gees afhanklik is nie.
Ek dank die Here vir die WONDERLIKE EN GESEëNDE NAWEEK WAT ONS SAAM MET DIE HELE SPAN geniet het.

JULLE IS DIE BESTE!

Ons waardeer elkeen vir julle se unieke en besondere bydrae om van die konferensie die sukses te maak wat dit was!

Dankie dat jy toegelaat het dat die Heilige Gees op so besondere manier deur jou kon werk om gestalte te gee aan God se wil!