Ek het 'n goeie vriend wat die trotse pa van drie dogters is. Ek reken indien daar iemand is wat kan gesels oor die verhouding tussen 'n pa en sy dogters - dat hy verseker met gesag daaroor kan gesels. En die rede waarom ek sê dat hy met gesag oor hierdie onderwerp kan gesels, is nie bloot net omdat hy dogters het nie, maar vanweë die besonderse en navolgenswaardig verhouding wat daar tussen hom en sy meisiekinders bestaan.
Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou in hierdie verband:
Waardering vir uniekheid.
Laat ons dit maar vir mekaar sê - geen twee mense is dieselfde nie -- en VERSEKER is dit ook waar van sy drie dogters. Hulle is uniek in elke opsig. En die deernisvolle manier waarop hy sy meisiekinders hanteer dui juis aan in watter mate hy hulle uniekheid respekteer. Dit is ook hierdie respek vir hulle uniekheid wat daartoe aanleiding gee dat hy die drie dogters nie met mekaar vergelyk nie, en dat hy hulle geniet vir wie hulle is. Die wonderlike resultaat hiervan is dat die drie dogters geensins teenoor mekaar 'n gevoel bedreiging het nie, en dat hulle ook vir mekaar wedersydse respek het. Hierdie skitterende verhouding wat die drie dogters met mekaar het kan ook gesien word hoe hulle saam met mekaar lag ... en ook vir mekaar lag.
Pa as die ridder. Hier is nou drie meisiekinders wat BAIE hoë verwagtinge van hulle toekomstige mans sal koester. En die manne sal sowaar hulle storie moet ken - nie net omdat hulle Pa verseker die mannetjies behoorlik gaan uitkyk, en uitvra (en waarskynlik gaan dreig nie) - maar omdat hierdie dogters weet wat hulle in 'n man wil hê - hulle Pa stel juis die deurslaggewend voorbeeld. Baie kêrels het al gereken hulle sal dit maak - maar, ai, die tyd het totaal die teendeel bewys. Verseker is daar telkens die hartseer en die vrae wanneer 'n verhouding nie (ver) vorder nie, maar die standaard is gestel - en dit sal verseker nie laat vaar word nie, want die sekuriteit wat sy daadwerklike voorbeeld van manlikheid tot gevolg het, is nie onderhandelbaar nie.
Pa as vriend. Dit is ook die vrymoedigheid wat hierdie meisiekinders teenoor hulle Pa het wat veral by 'n mens byval vind. Hulle vertrou hulle Pa 100% Hulle het vir hom die nodige respek, maar hulle is nie vir hom bang nie. Hulle deel hul geheime en seer met hom - want hulle wéét hy koester hulle geluk en vooruitgang. Hulle sal sommer baie gou vir jou sê: "Ons pa verstaan 'n vrou!" ('n Mens sou so hoop - veral omdat hy die enigste man in hierdie gesin van vyf is.) Hy is as enigste manlike persoon in hul gesin wel in die minderheid - maar sy begrip, wysheid, onvoorwaardelike liefde, toeganklikheid, aanvaarding en geestelike leiding gee hom die voorsprong!
Man van sy vrou. Dit is die laaste gedagte wat ek met julle wil deel. Die kosbaaste geskenk wat hierdie Pa sy drie dogters ooit kan gee - en wel doen - is die manier waarop hy hulle ma hanteer. Hy behandel haar soos 'n lady - en dit bring 'n trots in hierdie drie meisiekinders mee wat hulle selfvertroue gee. Hierdie drie meisiekinders is in eie reg ladies omdat hulle Pa hulle daardie ruimte gee. En die geluk wat hulle in hulle moeder sien sê eenvoudig vir hulle: Dit is wat dit beteken om volkome en merkwaardig vrou te wees.
Sommer net so uit die hart!
PCdeJ
09-08-10
0 comments:
Post a Comment