Hierdie is verseker een van daardie boeke wat ek eenvoudig net nie kon neersit nie. En tussen al die ander daaglikse verpligtinge en ten spyte van die twee ander boeke wat ek besig is om te lees, moet ek sê dat hierdie boek my aangegryp het. Renier Pelser (KruisGenerasie Middelburg) het die boek vir my as 'n geskenk gegee - en dit is verseker baie meer as net 'n geskenk ... dit is een van daardie waardevolle lewensbeleggings.
In kort gaan die boek oor aktivisme as gevolg van; of gedring deur, iets wat jy eenvoudig net 'nie meer kan hanteer nie,' byvoorbeeld die nood van mense, die toestand van die kerk, leemtes in die samelewing, ens. Dit word deur Dr Robert Quinn beskryf as die verskuiwing vanuit 'n "normal state" tot 'n "fundamental state." Om dus passievol te leef, en so gedring te word deur jou passie vir 'n bepaalde saak dat jy nie sal rus totdat jy die wenslike deurbraak of radikale positiewe verandering van omstandighede beleef nie -- en dan te volhard om dit volhoubaar te hou.
Die boek rig 'n dringende pleidooi tot die adres van alle mense - EN VERAL GEESTELIKE LEIERS - om op die plek te kom waar hulle lewensprioriteite en God se bedoeling vir die mensdom vir 'n lewe van vryheid, geluksaligheid en oorwinning in kongruensie sal wees. Dit is 'n pleidooi vir onselfsugtige offervaardige diensknegskap!
Om die boek te lees, is om eenvoudig die spieël voor jouself op te tel, en jou eie reaksie oor die nood en ellende van mense waar te neem. Het jou eie gemak, gerief en vooruitgang jou laat vergeet van die derduisende mense wat sonder God en sonder hoop in hierdie wêreld leef? Die mens is die kroon van God se skepping (Ps 8), en God het sy Seun in die wêreld gestuur sodat die wêreld deur Hom gered kan word (Joh 3:17) - die vraag is net of die kerk in diens van die Goddelike missie is (Matt 28:19, Gal 6:9, 10, Efe 2:10), of het ons ryk en verryk geword, en geestelik arm, naak en blind - ellendig, beklaenswaardig en apaties (Open 3:14-22).
In Matt 9:36 lees ons dat Jesus die skare innig jammer gekry het omdat hulle moeg en uitgeput was - soos skape sonder 'n herder. Om hierdie ongemak te ervaar oor die nood van mense is juis dit wat Bill Hybels "holy discontent" noem. Die Here moet ons genadig wees dat ons nie aan "passion fatigue" sal ly nie.
Het ons 'n visie om mense vir die Koninkryk van Lig en Lewe te bereik - of om bloot net indrukwekkend te wees, en die ingewydes 'n gevoel van trots te gee ... het ons kerkgeboue monumente van ons sukses geword, of is dit die plek waar daar nog oor die nood van mense strategies beplan en opgetree word en waar daar deur sinergisme van passie 'n daadwerklike verskil in 'n stukkende samelewing gemaak word? Dit is skokkend en skandelik dat die sommige gemeentes van ons tyd beskryf word deur woorde soos: "over-entertained and under-challenged!"
Wat is daardie een ding wat jou slapelose nagte gee? Wat is die een ding wat aanhoudend onder jou aandag kom - asof jy eenvoudig nie daarvan kan weg kom nie? Wat is daardie een ding wat sonder ophou jou hart ruk en jou wese verskeur en tot jou skree-roep om iets daaromtrent te doen? Liewe vriend - dit is die plek of omstandigheid waar God jou wil gebruik!
Wanneer jy die bepaalde behoefte (holy discontent) geïdentifiseer het moet jy dit ...
- Voed: Maak seker dat jy op hoogte bly van die behoefte. Moet nie dié tipe omstandighede vermy nie, sodoende sal jy jou passie vir die saak brandend hou.
Veg vir dit: Gaan oor tot aksie. Wees 'n passiegedrewe aktivis vir die Saak. Wees bereid om die prys daarvoor te betaal. Besef dat die Saak groter is as jyself en as die lewe self.
Volg dit: Dit kan gebeur jou betrokkenheid in hierdie aanvanklike saak aanleiding gee tot; of oorgaan in 'n volgende saak. Volg dit. Laat toe dat die verloop jou ook verander.
Glo jy steeds dat God jou geroep het om 'n verskil te maak? Indien jy jou passie verloor het om hierdie roeping uit te leef, bid dan dat die Here jou passie weer aanvuur! Wat dreineer jou krag en passie? Bring 'n einde daaraan, en doen wat God jou geroep het om te doen.
Laat ons ryk wees in goeie werke! Burn in me fire of God!
PCdeJ
07-08-10
0 comments:
Post a Comment