Tuesday, August 17, 2010

Terugblik op Sondag 15-08-10


Sondae is altyd vir my 'n opwindende dag. 'n Dag propvol verwagting. Dit laat my net weereens besef dat verwagting en hoop 'n deurslaggewende rol in die mens se lewe speel! Dit is verseker van die kernelemente wat daartoe bydrae dat die mens die moed het om op te staan en weer te probeer, en die moed het om aan te gaan.

Ek deel graag 'n paar gedagtes met jou oor om met hoop te leef.

  1. Om met hoop te leef, is om 'n visie vir die toekoms te hê. Daar is te veel mense in ons dag wat hoop verloor het, en omdat hulle nie meer met hoop besiel is nie, sien hulle ook nie kans vir die lewe nie. Mense wat egter met hoop leef, is mense wat oortuig is daarvan dat die beste nog voorlê. Dit is mense wat verby die gegrendelde deure van die hede alreeds kan sien dat daar 'n heerlike uitkoms sal wees.

  2. Om met hoop te leef, is om oor te gaan tot aksie. Mense wat met hoop leef wag nie vir dinge om te gebeur en reageer dan daarop nie. Hulle is pro-aktief ingestel. Hulle besef dat goeie intensies presies net is wat dit sê dit is: goeie intensies. Daar moet tot aksie oorgegaan word sodat goeie intensies kan resulteer in heerlike dimensies van bediening en uitlewingsruimte.

  3. Om met die hoop te leef, is om die beste raak te sien. Hoopvolle mense is nie doemprofete nie. Dit is mense wat oortuig is daarvan dat elke mens, en in elke negatiewe omstandighede, daar tog een of ander skoonheid en heerlikheid na vore kan kom. Dit is mense wat optimisties raak oor die kleinste mate van vordering en groei wat daar in mense is; en opgewonde en liries kan raak oor die klein persentasie van verandering wat daar alreeds bespeur kan word.

  4. Om met hoop te leef, is om dankbaarheid 'n lewensdeug te maak. 'n Hoopvolle mens is 'n dankbare mens. Dit is 'n mens wat vergenoeg is. Dit is dus mense wat tussen die verwagting van 'n beter toekoms en die huidige omstandighede of realiteit 'n ekwilibrium bereik wat met dankbaarheid in balans gehou word.

  5. Om met hoop te leef, is om 'n greep op die lewe te hê. Hoopvolle mense is mense wat die lewenskuns bemeester om kop te hou. Dit is mense wat doelgerig is. Dit is mense wat 'n tipe deursettingsvermoë besit.

  6. Om met hoop te leef, is om 'n baken van hoop vir ander te wees. Ek wil dit waag om te sê dat hoopvolle mense nie selfsugtig is nie. Dit is mense wat ook vir ander mense rondom hulle 'n goeie en bekoorlike toekoms kan sien. Dit is mense waarby ander mense hoop skep - deur die positiewe inspraak wat daar in hulle lewe gemaak word deur die optimisme van 'n hoopvolle medemens. 
Om hoopvol te wees beteken nie om die realiteit van huidige omstandighede te ontken nie, maar om te besef dat die lewe groter is as wat jy het of nie het nie -- en om nie toe te laat dat jy die slaaf van jou omstandighede sal word nie.
 
Uit Spreke leer ons:
 
"'n Uitgestelde hoop maak die hart siek; maar 'n wens wat uitkom, is 'n lewensboom."
[Spr 13:12]
 
PCdeJ
17-08-10

0 comments: