Deur Gary L. McIntosh en Samuel D Rima
Verseker 'n MOET LEES boek vir elke leier wat daarna strewe om te ontwikkel in sy leierskapvaardigheid.
Om hierdie boek te lees, is soos om 'n spieël voor jouself op te tel. Ek plaas verseker hierdie leierskap boek in 'n ander klas. "Wat maak die boek so anders?" Hierdie boek is intens persoonlik van aard. Dit gaan dus nie oor die lesse en wyshede wat ander vanuit hulle besondere bestuursvernuf en leierskapstyl geleer het nie, maar oor die blote feit dat leierskap by self-leierskap begin. Die premis van die boek kan saamgevat word uit die volgende ses stellings:
- Elke leier het tot 'n mate een of ander soort persoonlike disfunksie (eina).
- Hierdie persoonlike disfunksie dien dikwels as 'n dryfkrag wat 'n persoon dring in sy begeerte of behoefte vir sukses.
- Baie leiers is nie bewys van hierdie dark side in hulle persoonlike mondering nie.
- Die persoonlike karaktertrekke wat 'n persoon dryf om sukses te behaal kan ook daartoe aanleiding gee dat 'n persoon faal in sy leierskap - in die boek word dit "the paradox of personal dysfunction in leadership" genoem.
- Om meer te leer omtrent die dark side of leadership stel 'n leier in staat om persoonlike oorwinning te ervaar wat 'n groot bydrae kan lewer in sy publieke oorwinning as leier.
- Die Woord van die Here gee aan ons behoorlike en spesifieke raad om die dark side of leadership te verwerk.
Die boek bestaan uit drie dele: A) Verstaan/definieer die dark side. B) Identifiseer hierdie faktore in jou eie lewe. C) Hoe om hierdie dark side te oorwin.
Die 19 hoofstukke van die boek is om die minste te sê 'n ontdekkingsreis en ontnugtering. En moet nie dink dat jy "gelukkig nie nodig het om dié boek te lees nie." Indien jy so redeneer wil ek JOU ten sterkste aanraai om tog die boek aan te skaf - JY HET DIT VERSEKER NODIG! Jou ontkenning is die bewys - vat so!
In die inleiding tot die boek skryf Samuel Rima: "The majority of tragically fallen Christian leaders during the past ten to fifteen years have been baby boomers who felt driven to achieve and succeed in an increasingly competitive and demanding church environment … The problem arises from the fact that success is not something one can have or possess. True success is a state of being not having. Unfortunately, many Christian leaders are driven manically to have success … As a result, even when these leaders succeed in creating a large congregation, a large facility, and all the other markers that measure success in the twenty-first-century church, they are no closer to actually having or possessing the inner feelings of success that have been seeking through their manic activity … I am convinced that reducing the potential of leadership failures must begin with challenging the current paradigm of measuring success in terms of having as opposed to being."
Die dark side is daardie innerlike (soms onbeheersde) drang, kompulsiewe optredes en of disfunksies wat ons dring om sekere doelwitte te bereik - of om onsself te bewys. Hierdie dark side is nie noodwendig net sleg nie. Dit kan ons motiveer om op te staan en met mening voort te beur, maar wanneer ons nie daarvan bewus is nie, kan die onvervulde behoeftes, vrese, codependence, en persoonlike verleenthede wat hiertoe aanleiding gegee het, ons leierskapstyl dikteer en mense-verhoudings skade doen. Die dark side word gekenmerk aan karaktertrekke soos trots (verwaandheid), selfsugtigheid, misleiding en verkeerde motiewe. Hierdie dark side kan onder andere onderskei word deur die volgende optrede: A) Die oënskynlik onverklaarbare, onversadigbare en voortdurende drang om 'n noemenswaardige impak of verskil te maak. B) 'n Oordrewe drang om deur die persone wat jy lei erken te word. C) Die ongegronde vrees dat jy nie genoeg doen nie. D) Die onnatuurlike behoefte om absoluut in beheer van alles en almal rondom jou te wees. E) 'n Geneigdheid na perfeksionisme, brassery, kompulsiewe spandabelrigheid, alkoholisme, ens.
Aangesien die boek oor leierskap handel, is dit nie vreemd om sekere evaluerings en vraelyste te vind wat jou help om die dark side in jou te ontdek en aan te spreek nie. In terme van hierdie ontdekkingsreis (of ontnugtering) word die volgende dark side tipes onderskei:
- Compulsive Leader (wil alles weet en beheer, statusbewus, soek die erkenning van persone wat in leierskapposisies is).
- Narcissistic Leader (wil alles wees, soek erkenning en bewondering van ander, oordrewe gevoel van "ek is belangrik")
- Paranoid Leader (Suspisieus, vreesbevange, jaloers, agterdogtig, hipersensitief ten opsigte van ander se optrede teenoor hulle, skep rigiede maatreëls om ander in te perk)
- Codependent Leader (Vredemakers, vermy konflik, reageer eerder as om pro-aktief op te tree, sukkel om uitdrukking te gee)
- Passive-Aggressive Leader (Hardkoppig, vergeetagtig, doelbewus oneffektief, klakous, traag, woede-uitbarstings)
"Overcoming the Dark Side of Leadership" is baie meer as net 'n boek - dit is 'n onontbeerlike gereedskapstuk vir alle leiers!
PCdeJ
29-09-10