Ons het wonderlike dienste geniet, en die teenwoordigheid van die Here was so tasbaar. Dok is tans besig met 'n reeks boodskappe wat handel oor die verhouding tussen die Kerk en Israel. Baie insiggewend. Ons leef in wonderlike tye! Sal dit nie wonderlik wees indien hierdie geslag die skouspel van die eeue sal beleef nie - die wegraping van die Kerk! Tydens ons aanddienste hou ons tans 'n paar paneelgespreke oor aktuale en kontroversieële sake.
Ons het tydens hierdie gesprekke alreeds gesels oor onderwerpe soos:
- Is die Bybel die waarheid? Kan ons in ons dag steeds die Bybel beskou as 'n betroubare bron?
- Waarom word kinders van God siek?
- Hoekom lees ons dat God Farao se hart verhard het? En wat van dit wat Job alles deurgemaak het?
- Die misleiding van bloedlynvloeke teenoor die WAARHEID dat Christus jou vrygemaak het!
Daar is egter 'n paar wonderlike dinge wat ek die afgelope Sondag weereens gesien het:
- Maak ruimte vir mekaar deur 'n bedieningsplatform daar te stel. Deur dit te doen verruim ons ons harte vir mekaar se uniekheid, en word die samekoms tot asemrowende moontlikhede verhef. Ja, dan word ekself ook deur die besondere bedieningsituasie geseën.
- Beplan die verloop van die diens, en wees ook sensitief vir die leiding van God se Gees. Ons moet ons dienste beplan. Dit dra by tot die vloei van gebeure. En wanneer die Gees van God ons lei om iets te doen wat nie noodwendig op die program aangeteken is nie, skep die orde wat by aanvang van die diens daargestel is 'n goeie basis vir die bestuur van die momente in die diens. Die Gees van God het nog nooit ons dienste ontwrig nie, aangesien ons beplanning bloot 'n raamwerk van die effektiewe bestuur van tyd is - wat in alle geval Gees-sensitief gedoen word.
- Maak seker dat almal wat tydens die diens betrokke is weet wat van hulle verwag word. Dit is die sin van beplanning. Ingeligte mense neem noodwendig beter besluite.
- Moet nooit die waarde en impak van vriendelikheid onderskat nie. Wanneer mense 'n diens bywoon, en deur vriendelike werkers ontvang word, voel hulle klaar tuis. Luister: jy kry nie 'n tweede kans om 'n eerste indruk te skep nie!
- Spreek waardering uit. Dit is altyd vir my 'n groot bron van seën wanneer ek sien hoe mense reageer wanneer ek vir hulle sê dat ek hulle waardeer, hulle bediening geniet, en dit as 'n voorreg beskou om saam met hulle in die gemeente te arbei. Ons voel nie bereig deur mekaar se uniekheid nie, in teendeel, wanneer ons opregte waardering uitspreek sê ons juis vir mekaar dat ons beter is SAAM met mekaar.
PCdeJ
13-09-10
No comments:
Post a Comment