Tuesday, June 29, 2010

Voel jy dalk bedreig

Voel jy dalk bedreig?

Oorweeg die volgende tien stellings eerlik.  Dit sal in ‘n mate ‘n aanduiding gee of jy onseker en bedreig voel.

  1. Jou beste en eerste antwoord is gewoonlik:  “nee.”
  2. Jy moet persoonlik alle besluite goedkeur en die uitkomste van besprekings kontroleer.
  3. Almal op die span werk  “vir”  jou en nie  “saam”  met jou nie.
  4. Jy gebruik die woord  “ek”  meer as die woord  “ons.”
  5. Jou idee van delegeer is om vir mense te sê wat hulle moet doen, hoe hulle dit moet doen en wanneer dit gedoen moet word.
  6. Jy sê baie meer:  “Doen dit”  as wat jy vra:  “Wat kan ons doen?”
  7. Niks gebeur; of niks mag gedoen word, sonder dat jy behoorlik daarvan kennis dra nie.
  8. Jy is kronies besig om die besluite wat die Span geneem het te verander of te herroep.
  9. Jy beheer die beskikbaarheid van inligting aangesien dit jou ‘n gevoel van mag gee.
  10. Jy tree baie streng op teenoor persone wat fouteer.

Miskien speel ek duiwelsadvokaat  ...  maar ek reken dat dit tog ‘n goeie basis kan vorm in die evaluering van jou leierskapstyl.

“Die span is groter as die man.”  Dr GC Horak

En jy het gedink jy het glad niks nie?


God is getrou!  Die boodskap het werklik soveel mense se lewens geraak  -  LOOF DIE HERE!  Die boodskap-aantekeninge is op die webwerf beskikbaar  www.leefdiewoord.co.za.  Dit gebeur so dikwels met ons dat ons kortsigtig is en onwaardigvoel.  Moet nie die dag van klein dinge verag nie.  In jou oë is dit glad niks nie, maar net 'n flessie met olie, maar in God se hand word dit 'n fontein van voorsiening.

klik hier vir preeknotas.

Friday, June 25, 2010

Five Ways to Use Authority for the Benefit of Your Team

Wanneer jy die outoriteit wat jy het reg gebruik, sal dit noodwendig daartoe lei dat mense vir jou respek het - hulle sal jou dan graag wil volg.

Five Ways to Use Authority for the Benefit of Your Team

Wednesday, June 23, 2010

Gemeente Bemarking [Deel 1]



Jy kry nooit ‘n tweede kans om ‘n eerste indruk te maak nie!  Die skokkende realiteit is dat verskeie gemeentes die vermoë verleer om met mense te connect.  Ons is dikwels net besig om ons verhouding met die ingewydes in stand te hou, maar weet dikwels nie hoe om effektief met buitestaanders te connect  nie.  Ons skiet onsself dikwels in die voet omdat ons meen die persepsies van mense is onbenullig en ons nie ons eie en huidige gemeente-praktyke wil evalueer nie.  Die vraag wat ons eerlik moet antwoord is of die gemeentes nog steeds op ‘n effektiewe manier met die verloregaande mensdom kontak maak?  Nie kompromie aangaan nie  -  KONTAK maak.  Is ons nog n voeling met die mensdom?

1.         Verandering maak nie noodwendig alles nuut nie.

Deur bloot net dinge te verander gaan nie noodwendig daartoe aanleiding gee dat mense met ander oë na julle kyk nie.  Nuwe logo’s, nuwe name en nuwe geboue gaan nie noodwendig en inherent lei tot nuwe groei nie.  Jy kan nooit die antwoord vir groei vir die gemeente vind daarin om slaafs net na te doen wat groeiende en florerende gemeentes doen nie.  Jy sal waarskynlik die antwoord veel eerder vind in wat hulle is  -  Die karakter en aard van die gemeente.

2.         Alle gemeentes doen bemarking!

Dit is verseker waar:  Alle gemeentes doen bemarking!  Elke gemeente is besig om ‘n bepaalde persepsie van hulleself in die oë van die gemeentelede en die gemeenskap te vorm.  Bemarking gaan in wese oor die bestuur van mense se persepsies.  Hierdie bestuur van persepsies veronderstel geensins dat die waarheid en die werklike stand van die gemeente gemanipuleer sal word in ‘n oppervlakkige poging om mense te beïndruk nie.  Hierdie bestuur van persepsies is om die waarheid en realiteit van die gemeente effektief en eerbaar voor te hou en te verteenwoordig.  ‘n Bemarkingsstrategie wat in die waarheid gegrondves is gee aan jou die vryheid en die voorreg om mense se persepsies te vorm.  Dit moet ook vermeld word dat mense se persepsies van enige saak vir mense só sterk is dat daar algemeen verwys word na hulle persepsie as die realiteit  --  hulle persepsie is vir hulle die ware stand van sake.  Daar is verskeie faktore wat bydrae tot die bepaalde persepsie wat mense van die gemeente vorm:  Bedieningstyl.  Estetiese vertoon.  Menseverhoudings.  Ontvangs en hantering van besoekers.  Liturgiese afgerondheid.  Leierskapstyl.  Persoonlike netheid  -  van die hele bedieningspan wat tydens dienste betrokke is.  Lof en aanbidding.  Ligging.  Webwerf.  Taalgebruik.  Advertensie.  Dekor.  Gedrukte media wat deur gemeente uitgegee word.  Leierskap Span.  Leerstelling.  Verskeie bedieninge in die gemeente, ens.

Die groot vraag is:  kan ons mense se persepsies verander?  JA!!  Anders sou ons nie kon sê dat bemarking handel oor die bestuur van persepsies nie.  Wat beteken bestuur?  

Bestuur is die vermoë om  (1)  helderdenkend te weet waar jy jouself bevind,  (2)  beslis te wees in waarheen jy oppad is,  (3)  algaande die nodige aanpassings te maak ten einde te verseker dat jy jou bestemming sal bereik.

In die lig van hierdie definisie van bestuur kan ons dus sê dat bemarking gaan oor  (1)  Die vermoë en insig om te weet wat mense se indrukke/persepsie van jou/julle is.  (2)  Die visie en vooruitsig van hoe jy wil hê mense oor jou/julle moet dink  ...  watter persepsie hulle van jou/julle moet hê.  (3)  Die aanpassings en vernaderings wat soms aangebring moet word, en deeglik deur gekommunikeer moet word ten einde te verseker dat mense die persepsie van jou/julle sal huldig wat jy/julle graag wil hê hulle van jou/julle moet hê.

Daarom is dit noodsaaklik om te besef dat bemarking in; en van, die gemeente ten eerste gaan oor wie julle is; of graag wil wees, alvorens jy/julle kan besluit wie julle graag wil bereik.  Bemarking is die NIE om voor te gee wat julle nie is nie.  Dit sal verseker mense wegdryf!  Moet ook nooit toelaat dat julle tekorte of gebreke julle verhinder om uitnemend op te tree nie.  Wees getrou in die klein dingetjies.  Besef ook jou absolute afhanklikheid teenoor die Heilige Gees om jou te lei om tot eer van God by te dra tot die positiewe vorming van mense se persepsies van die gemeente en van jouself.
  1. Wat is die persepsie wat die gemeenskap het van julle gemeente?
  2. Wat is die persepsie wat die breër spektrum van lidmate (betrokke, onbetrokke, ryk, arm, ens) van die gemeente het.
  3. Wat wil jy graag hê moet al hierdie mense van die gemeente dink?
  4. Wat is jy tans besig om te doen om mense se persepsies van die gemeente te verander?
  5. Wat sal jy in die toekoms moet doen om te verseker dat mense se persepsies van jou/julle sal verander.
Reising, Richard, L.  2006.  ChurchMarketing 101:  Preparing Your Church for Greater Growth.  Grand Rapids:  Baker Books.

Five Rules for Better Presentations

Maak jy gebruik van PowerPoint Presentations? Lees gerus hierdie artikel. Baie goeie wenke.

Five Rules for Better Presentations

Tuesday, June 22, 2010

Monday, June 21, 2010

Wat het alles VADERSDAG gebeur?

Waar sal ek begin  ...  Heleen en Boeta het my bederf  -  soos ons maar altyd in ons huis die gewoonte het om te doen.  So, op 'n manier was dit 'n dag soos elke ander dag  -  WANT HIERDIE DE JAGER GESIN IS ERG OOR MEKAAR!  Ek het wel 'n smart geskenk gekry.

Ons dienste was WONDERLIK!  Die VEK Kerugma-Familie kan kerk hou.  DANKIE VIR DIE GESKENK!  Dit was onverwags!  Ek het tydens die 09:30 diens, en Heleen tydens die 18:30 diens bedien.  Heleen het dit behoorlik gedoen  -  SY MAG MAAR!  Dit was 'n heerlike tyd in God se teenwoordigheid.

Ons het ook tydens die 18:30 diens 'n doopdiens gehad.  Baie geluk aan Cobus wat die groot stap geneem het!

Ek is oortuig daarvan dat hierdie week EEN BESONDERE WEEK GAAN WEES!

Saturday, June 19, 2010

Bestuur jou tyd

Daar is baie wat gedoen moet word, en wanneer jy besluit om jou lewe en bediening pro-aktief te bestuur is dit noodsaaklik dat jy jou tyd reg sal bestuur.  Die feit van die saak is dit:  Elke dag het net 24 uur.


Hierdie beginselwaarheid om die tyd reg te bestuur word treffend deur Paulus gestel wanneer hy ons vermaan om die tyd uit te koop  (Efe 5:16, Kol 4:5).  Ek het al dikwels gehoor dat mense sê dat hulle nie tyd het om aan een of ander saak aandag te skenk nie.  Somtyds is daar dinge wat eenvoudig net nie prioriteit is nie; of selfs nie noodsaaklik is nie, en daarom het jy nie nodig om dit te doen nie.  Maar die gevaar bestaan ook dat jy as gevolg van gebrekkige of onwyse tydsbestuur die gevaar loop om noodsaaklike dinge af te skeep, selfs te ignoreer, omdat jy jou tyd nie reg bestuur nie.  Dit beteken noodwendig dat jy ‘n duidelike visie en doelstellings moet hê sodat jy as gevolg van ‘n bepaalde doelgerigtheid vir sekere dinge  “nee”  kan sê.  Moet geensins dink dat jy ‘n held is indien jy gaan probeer om almal te vrede te stel en aan almal en alles aandag te skenk nie.  Dit sal jou effektiwiteite GROOTLIKS aan bande lê, en sal ongetwyfeld ook daartoe bydrae dat jy nie ‘n gevoel van genoegdoening beleef oor die dinge waarmee jy besig is nie.


Daar is verseker baie aspekte van tydsbestuur waaroor ons kan gesels.  Ek wil egter vir die doel van hierdie artikel net aan een van hierdie aspekte tyd bestee:  Moet nie toelaat dat veeleisende mense jou tyd beroof nie.  Dit is verseker só dat ons geduld met mekaar moet hê.  Dissipelskap en mentorskap vereis van enige toegewyde leier verseker aandag  -  EN TYD!  Maar jy moet wysheid en insig aan die dag lê om persone te identifiseer wat bloot net jou tyd wil opneem.  Dit is natuurlik nie ‘n verskoning om onbeskof of ontoereikend te wees nie.  Maak seker dat mense duidelik weet wat hulle van jou kan verwag en wat jy van hulle verwag, op so manier word daar duidelike grense gestel en word daar ‘n samewerkings ooreenkoms bereik wat bydra in hoe tyd bestuur word.


a)                   Sommige mense is eenvoudig net veeleisend.  Wees paraat om nie te dink dat mense veeleisend is net omdat jy ongeduldig is nie; of omdat jy sekere vooropgestelde idees van hulle het nie.  Mense is soms veeleisend omdat hulle onverwerkte emosionele bagasie het.  Die vraag is of hulle hierdie bagasie wil uitsorteer?  Veeleisende persone is soms mense wat nie sake wil uitsorteer nie; hulle soek regverdiging.  Hulle word nooit tevrede gestel nie  -  veral nie as daar van hulle verwag word om te verander nie.  Hulle ly aan selfbejammering en is dikwels selfsugtig.  Indien jy besluit om met hierdie persoon ‘n pad te stap maak seker dat die persoon verstaan dat jy begrip het, maar dat die persoon sy/haar samewerking sal gee.  Indien nie, moet nie skroom om nie langer met die persoon tyd te spandeer nie.  Dit mag dalk kras klink, maar  ...


b)                   Jy moet onthou dat daar ook ander mense is wat waarlik jou hulp en bystand nodig het.  Daarom moet jy nooit toelaat dat veeleisende mense jou in hulle klein wêreld toespin  -  sodat jy nie die nood en behoefte van ander kan raaksien nie.


Ek wil afsluit met die woorde van Hester Maartens.  Wie is Hester Maartens?  Ek kan myself bykans nie voorstel dat jy nog nie van haar gehoor het nie.  Dit is een van daardie lidmate wat enige Predikant droom om in sy gemeente te hê.  En sy het eenmaal vir my gesê:  “Philip, ‘n mens kan nie ‘n ding aan die lewe wurg nie.”  Indien jy besef dat jy jou tyd moet bestuur, sal jy ook besef dat jy nie kan toelaat dat jou tyd gemors word nie.


Groete
Philip

Wednesday, June 16, 2010

Kruisgenerasie, VEK Secunda

KruisGenerasie, VEK Secunda, Pastoor Theuhan Pretorius

Blogger van FORMAAT

Ek gaan probeer  ...  nee wag, ek gaan dit maak werk!  Daar is soveel kosbare inligting wat 'n mens daagliks mee te make het, dinge wat ek sommer net vinnig met jou wil deel.  En ek gaan nie langer uitstel om die geleentheid aan te gryp nie.

Ek vertrou dat jy sal besluit om my BLOG te volg.

Groete
PHILIP