Ons het gister (09-01-2011) geseënde dienste by die VEK Kerugma geniet. Die bywoning was wonderlik; feitlik weer terug na normaal. Dit was goed om almal te sien - uitgerus en slaggereed vir die jaar wat voorlê. Die mense het gesels en gekuier voor die dienste ... die Kerugma-Familie is altyd vrolik en vriendelik, maar daar was gister bykans 'n uitbundigheid voor die dienste. Vir sommige mense was dit dalk 'n probleem - veral vir diegene wat 'n besondere waardering vir 'n gewyde atmosfeer het - maar vir my was dit heerlik om te sien hoe die Familie kuier en gesels.
Hoe kan ons die entoesiasme van die nuwe jaar regdeur die jaar beleef? Kom ons oorweeg die volgende:
- God is getrou. Ons getuig dat die Here ons deur 2010 gedra het. Dat Hy voorsien het. Dat Hy genees het. Dat Hy bemoedig en versterk het ... ens, ens. Dit moet ons motiveer: Die Here sal ons NOOIT begewe en ons NOOIT verlaat nie. Die dankbaarheid wat ons in ons harte teenoor die Here vir sy getrouheid ervaar, moet ook ons geloof versterk sodat ons nie die onbekende toekoms sal vrees nie.
- Geluk kom van binne af. Om gelukkig te wees is nie 'n plek wat jy bereik nie - dit is 'n manier van lewe. Jy besluit om gelukkig te wees! Wanneer jy hierdie lewensingesteldheid het dan maak dit nie saak wat die omstandighede is waarin jy jou bevind nie - jy kan midde in dit alles steeds gelukkig wees ... steeds met blydskap en vrede in jou binnemens leef. Dit is tragies dat mense geluk in eksterne faktore wil vind. Die mens wat nie eerstens leer om geluk, vrede, dankbaarheid en vergenoegdheid in homself te vind nie, sal dit waarskynlik nooit in die lewe ervaar nie. Ek dank die Here dat ek by Hom skuiling vind, dat Hy my lei na waters waar daar rus is - ja, HY wat IN my is, is groter as hy wat in die wêreld is.
- Rus genoeg. Niemand dink jy is 'n held omdat jy jouself oorwerk nie. Jy beroof jouself van gesondheid en heelheid. Om weg te breek, te rus, bied aan jou die geleentheid om perspektief te verkry. Dit is dan wanneer jy weer met nuwe moed die lewe aanpak. Dit is egter ook nodig dat jy moet leer om die druk te hanteer - dit is 'n growwe nalating van jou verantwoordelikheid as leier indien jy telkens 'n in krisistyd wil wegbreek (of is dit wegkruip?) Slaap genoeg! Spandeer tyd alleen. Wees vars en vol lewensenergie - maar dan moet jy sorg dat jy genoeg rus. (O ja, onthou om genoeg water te drink).
- Leef vir iets. Aan die begin van die jaar is daar dinge wat mense hulleself voorneem om te doen. Sekere doelwitte. Dit is om lewensfokus en visie vir die lewe te hê. Dit gaan nie bloot net oor goeie intensies nie, maar oor doelgerigte en daadwerklike lewens-uitkomste. Dit is die entoesiasme wat daar aan die begin vir die jaar ervaar word. Skryf jou doelwitte neer. Werk vir jou 'n plan van aksie uit. Bid gedurig daaroor. Skryf jou vordering neer. Deur dit te doen sal jy regdeur die jaar fokus behou.
- Plaas gister agter jou. Ek hoor dikwels dat mense sê dat hulle bly is die ou jaar is verby - want dit was 'n moeilike jaar. Die realiteit van die saak is dat die ou dinge nie net weggaan omdat die nuwe jaar aangebreek het nie. Jy moet 'n besluit neem om nie vanuit die verlede te leef nie. Hy wat in gister leef, sien nie die sonsopkoms van vandag nie. Volg Paulus se raad in Fil 3:14 en plaas dinge agter jou, en sterk jouself doelbewus uit na wat voor is. Leer om dinge te verwerk. Vergewe mense wat jou verontreg het. Wanneer jy jouself doelbewus los maak van die verlede, kan jy die hede en toekoms in ontvangs neem -- en geniet!
- Kry waardering vir mekaar. Leer om die Here vir ander persone se uniekheid te dank. Dit sal waardering vir mekaar vergroot. Wanneer ons leer om mekaar te waardeer, sal ons ook besef dat ons mekaar nodig het. SAAM kan ons aan 'n toekoms bou. Ons gaan saam die onbekende toekoms in - en watter heerlike vertroosting dat ons mekaar kan ondersteun. Jy het nie nodig om alleen te wees nie.
No comments:
Post a Comment