Friday, April 29, 2011
Dankbaarheid oor die mense in my lewe
"Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink - en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap." [Fil 1:3, 4]
Dankbaarheid oor die mense in my lewe.
My grootste rykdom -- is my mense!
Die eerste en die beste plek om hulle name te noem, is in gebed. Om te bid dat hulle die Here bo alles sal behaag, en dat hulle God se wil vir hulle lewe sal LEEF! Dit is verseker ook my trots om te sien hoe passievol hulle die Here liefhet en dien.
Dit is 'n onuitspreeklike troos om te kan sê: By my mense is ek veilig. Hulle verstaan my. Hulle vertrou my. Hulle sien die beste in my ... Hulle verdra my ... ja, ek is veilig in hulle liefde. Hoe ons sonder enige inhibisies eenvoudig net onsself by mekaar kan wees -- dit is ware geborgenheid.
Om te sien hoe elkeen van hulle ontwikkel en die asemrowende potensiaal wat God in hulle geplaas het ontdek, ontgin en uitleef.
Ek kan my geensins die lewe voorstel sonder hulle nie. Ek vier elkeen se uniekheid met dankbaarheid teenoor die Here.
Ek het julle lief ... BAIE!!
Ek geniet julle vooruitgang ... JULLE IS WENNERS!!
Fil 1:6
Julle is my rykdom,
Heleen, Reuben, Cobus
Saturday, April 16, 2011
Bly Passievol
Soms gebeur dit dat dinge jou stormloop ... dit is dan wanneer jy die gevaar loop om passie te verloor indien jy nie op die regte dinge fokus nie. Ek dink aan die woorde van Richard Kearney (hy was die jarelange bekwame tesourier van die VEK Lofdal, Rustenburg) wat eenmaal vir my gesê het: "Focus on the issues that add value."
Die vraag is ... hoe verseker jy dat jy passievol oor die dinge wat vir jou saak maak bly? Ek wil graag die volgende voorstel:
Binnekamer verhouding met God
Daar is niks wat 'n mens se moed en moraal so versterk as om jou verhouding met God prioriteit te maak nie! Dit dring my om te sê: "Here, begin by my!" Ek kan tog net gee wat ek het, en wat ek het is direk verbind aan dit wat ek ontvang. En wat ek ontvang is direk verbind aan die hoeveelheid tyd wat ek in my binnekamer-verhouding met God spandeer.
Mense
Die mense wat naby aan jou is (... wat jy naby aan jou toelaat) sal verseker 'n bepaalde invloed op jou passie (of passiwiteit) hê. Ek dink aan die woorde van Perry Noble wat in 'n artikel opgemerk het: "A person who lacks passion will always bring the temperature in the room DOWN .." Jy moet besluit wie jy gaan toelaat om in jou lewe inspraak te lewer. Wees ook bedag daarop dat jy nie mense se opinies en persepsies jou doodsvonnis maak nie. Hiermee bedoel ek geensins dat ons nie moet luister na kommentaar en kritiek van ander nie, maar hanteer dit volwasse, objektief, behou fokus -- EN BLY GEHOORSAAM AAN GOD SE WIL VIR JOU LEWE. Moet nie 'n kompromie aangaan omdat ander ongemaklik voel omdat jy groei, guns geniet en vooruit gaan nie.
Rus
Ek besef dat ek hierdie konstituent van effektiwiteit gruwelik in my eie lewe afskeep. En die ironie is dat niemand dink ek is 'n hero nie. Wanneer 'n mens nie behoorlik rus nie, verloor jy perspektief. Ek besef ook dat dit uiters verwaand en arrogant is om te dink dat die Saak benadeel gaan word indien ek nie altyd teenwoordig en beskikbaar is nie ...
Subscribe to:
Posts (Atom)